Verwoestende brand laat egpaar met niks
‘n Egpaar van Dalview het Vrydagaand byna al hulle besittings verloor, toe ‘n brand in hulle huis in Brodiganlaan ontstaan het.
Benewens die feit dat hulle basies met die klere wat hulle aangehad het gelaat is, is daar masiewe skade aan die huis aangerig.
Marinda Bronkhorst (42) en haar lewensmaat, Gerald Berman (53), het Dinsdag in die tuin van hulle erf gesit en probeer sin maak van die voorval wat binne ‘n oogwink hul lewens drasties verander het.
“Ons kon hier en daar ‘n dingetjie uit die huis kry, maar dit is bitter min,” het Marinda aan die Herald gesê.
“Dit is baie, baie moeilik om te aanvaar dat alles wat ‘n mens oor jare bymekaar gemaak en hard voor gewerk het, bloot net weg is.”
Daar is wel versekering op die huis self, maar die paar het nie versekering op die inhoud daarvan gehad nie.
Marinda en haar suster, Edith Steyn, het Vrydagaand om ongeveer 7nm na ‘n naby geleë winkel gery. Gerald was by die werk.
“Ons was skaars 20 minute weg toe ‘n buurman my bel en sê dat die huis aan die brand is,” het Marinda gesê.
“Ons het dadelik huistoe gery en toe ons daar kom was die sitkamer reeds in vlamme gehul.”
Marinda het na ‘n ander gedeelte van die huis gehardloop, waar sy ‘n deur oopgekry het om by haar die voëltjies, wat in ‘n hok in ‘n vertrek was, probeer uitkom het.
Edith het intussen die polisie gebel, aangesien sy nie die brandweer se nommer gehad het nie.
Die SAPD het baie vinnig opgedaag en vir Marinda uit die huis gaan haal.
Haar twee ringnekkies en ‘n “Lovebird” was reeds dood, as gevolg van die erge rook wat deur die huis getrek het.
Volgens Marinda was die brandweer gou op die toneel en het hulle dadelik begin om die vuur te blus.
Die brand het in die sitkamer ontstaan en, alhoewel die vermoede is dat daar ‘n kortsluiting in die dak was, sal die presiese oorsaak van die brand nog bepaal word.
“Dit was ongelooflik om te sien hoe vinnig die brand versprei het. Ons was magteloos en kon niks doen nie,” het Marinda gesê.
Gerald het van sy werkplek in Springs gery, maar moes ook maar terug staan en kyk hoe die huis waarin hulle al 19 jaar woon brand.
“Ons het Saterdagoggend hier en daar ‘n dingetjie uit die huis gaan haal, maar dit wat nie gebrand het nie is erg beskadig deur rook- en waterskade,” het Marinda gesê.
Die paar is tans in die proses om alternatiewe blyplek te soek .
Die brand was die tweede slag wat vir Marinda en Gerald in ‘n kort tydtjie getref het.
Die Herald het onlangs berig hoe ‘n motoris onlangs deur hulle muur tot in hul tuin gebars het. (Motoris bars deur muur, 13 September).
‘n Persoon wat ‘n klein bakkie bestuur het, het gedurende die nag beheer oor sy voertuig verloor en deur die muur gebars en in Marinda en Gerald se tuin te lande gekom.
“Ons het die muur herstel en die persoon het nog belowe dat hy sal kom help om die tuin weer reg te kry, maar ons het nog nie weer van hom gehoor nie,” het Gerald gesê.