Dief breek in wyl twee vroue slaap
Twee jong vroue het Donderdagoggend baie angsvolle oomblikke beleef, toe ‘n inbreker toegang tot hul huis verkry het en byna tot in die kamer waar hulle geslaap het, gekom het.

Nadia Fouché (23) woon in Largrangestraat, Minnebron en, aangesien sy Woensdagaand alleen sou wees, het haar vriendin, Anka Joubert (23), by haar oorgeslaap.
“Ons het in my kamer geslaap en Anka het om 4vm wakker geword van ‘n geraas in die huis,” het Nadia vertel.
“Sy het my saggies wakker gemaak en ek het dadelik gehoor dat daar iemand in die sitkamer was.
“Uit die aard van die saak was ons vreesbevange, maar ek kon daarin slaag om my ouers, wat naby bly, te bel,” het Nadia vertel.
“Ek kon in die gang afkyk en het gesien hoe ‘n man ‘n flitslig in die gang afskyn.”
Nadia gebruik haar selfoon se wekker om haar elke oggend om 5vm wakker te maak.
“My wekker is permanent gestel vir 5vm en ek kan regtig nie verduidelik wat Donderdagoggend gebeur het nie, want toe daardie man in die gang staan het my wekker om presies 4.15vm afgegaan,” het sy gesê.
“Ek glo die geluid van die wekker het veroorsaak dat die man besluit het om spore te maak.”
Die inbreker het deur ‘n venster in die sitkamer ontsnap.
Hy het die diefwering voor die venster oopgebuig om toegang tot die huis te kry.
Nadia se ouers het kort daarna by haar huis opgedaag en die inbreker het deur die erf van ‘n huis agter dié van Nadia se huis ontsnap.
“Dit was regtig nie ‘n aangename ondervinding nie. ‘n Mens voel baie magteloos,” het sy gesê.
“Ons is baie dankbaar dat ons wakker geword het en dat die inbreker besluit het om spore te maak,”



