Seun by swembad bedwelm
‘n 15-Jarige seun moes verlede Donderdag gehospitaliseer word, nadat iemand by die Brakpan Munisipale Swembad vermoedelik dwelmmiddels in sy koeldrank gegooi het.
Michael Harris het, kort nadat hy van die koeldrank gedrink het, sy bewussyn verloor en het eers verlede Vrydagoggend om 4vm weer tot sy sinne gekom.
Die voorval het Donderdagmiddag plaasgevind, toe Michael saam met sy ouer broer, Mark (19), sy sussie Naomi (14) en nog ‘n 17-jarige vriend die swembad besoek het.
Marlene Harris (39), die kinders se ma, het vertel dat hulle elkeen ‘n bottel Coke gehad het en dat hulle die bottels op ‘n stadium onder hul handoeke geplaas het, toe hulle almal gaan swem het.
“Toe die kinders terugkeer na hul handoeke was die bottels nie meer soos hulle dit gelaat het nie, maar hulle het nie veel ag daaop geslaan nie,” het Marlene vertel.
Naomi en die 17-jarige vriend se koeldrank was klaar voordat hulle gaan swem het, maar Mark en Michael se bottels was nog redelik vol.
“Mark het ‘n paar slukkies van sy koeldrank geneem en besef dit proe nie reg nie. Hy het nie verder gedrink nie,” het Marlene aan die Herald gesê.
“Michael was egter dors en hy het al die koeldrank wat in sy bottel oor was gedrink.”
Pas nadat Michael die koeldrank gedrink het, het ‘n sy bewussyn verloor.
“Naomi het my dadelik gebel en ek het in my kar gespring en na die swembad gery,” het Marlene gesê.
Die gesin woon daar naby, in Escombelaan.
Hulle het vir Michael in die voertuig gelaai en met hom na die Verre Oos-Randse Hospitaal gejaag.
Mark het intussen ook begin sleg voel en hy het erg opgegooi.
“Michael is onmiddellik bygestaan en is later in die intensiewe sorgeenheid op ‘n ventilator geplaas, aangesien hy glad nie gereageer het nie en die dokter my meegedeel het dat hy basies in ‘n koma was,” het Marlene gesê.
Mark is ook behandel maar is nie in die hospitaal opgeneem nie.
“Die dokters het aan my gesê dat Michael waarskynlik een of ander dwelmmiddel ingekry het en bloedtoetse is gedoen,” het Marlene gesê.
“Ek en my man, Marius, was buite onsself van kommer. Dit is nie aangenaam om jou kind so te sien nie,” het Marlene gesê.
Sy het tot laat in die nag by Michael se bed gewaak en was verheug toe hy Vrydagoggend net na 4vm bygekom het.
“Dit is die eerste keer dat die kinders na die swembad gegaan het,” het Marlene gesê.
“Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat so iets gebeur het. Ons kinders in nêrens meer veilig nie en dit is baie skrikwekkend.”
Marlene het die voorval by die Brakpan polisie aangemeld.
Michael is Vrydag uit die hospitaal ontslaan.
Hy het Maandag aan die Herald gesê dat die ondervinding baie onaangenaam was.



