Geliefde kleuterskoolhoof sterf langs haar baba (twee maande).
Die hoof van die Trippe Trappe Kleuterskool is Vrydagoggend in haar slaapkamer oorlede, ten spyte van haar man se verbete pogings om haar lewe te red.
‘n Baie somber atmosfeer het Maandag by die kleuterskool geheers, waar Hester Geldenhuys (36) die afgelope drie jaar die hoof was.
Volgens Hester se man, Gerrie (37), was sy op kraamverlof na die geboorte van die egpaar se vierde kind, Candice (twee maande).
“Hester was Donderdagaand bietjie verkouerig maar daar was nie rede vir kommer nie,” het hy gesê.
Gerrie is Vrydagoggend na sy besigheid in Wadeville, en die egpaar se drie ander kinders, Michelle (16), Calvin (11) en Quintin (5), is na hul onderskeie skole.
“Ek het pas nadat ek by die werk gekom het ‘n oproep gekry van ons huishulp, wat my meegedeel het dat Hester baie sleg voel,” het Gerrie vertel.
Hy het na hul woning in Sonneveld gejaag, terwyl hy ook die nooddienste na die huis ontbied het.
“Toe ek daar aankom het ek vir Hester op die vloer in ons kamer aangetref,” het Gerrie gesê. Candice was by haar in die kamer. Ek het dadelik begin om kunsmatige asemhaling toe te pas maar ek het ook besef dat daar groot fout was,” het Gerrie gesê.
Volgens hom het die nooddienste gou opgedaag en is daar verder gepoog om sy vrou se lewe te red.
“Ons kon ongelukkig niks meer vir haar doen nie,” het Gerrie gesê.
Hy het vertel dat sy vrou die beste ma ooit was en dat sy geweldig baie uitgesien het na die geboorte van hul vierde kind.
“Kinders was Hester se lewe en, behalwe ons eie kinders, was al die kinders by die kleuterskool vir haar soos haar eie.
“Sy was ‘n sonskynmens wat ongelooflik baie omgegee het vir ander mense,” het Gerrie bygevoeg.
Die mede-eienaar van die kleuterskool, Lorna Prinsloo, het Maandagmiddag aan die Herald gesê dat Hester sedert die ontstaan van die kleuterskool, in 2000, daar werksaam was.
“Sy was deel van ons; sy was 13 296 dae op hierdie aarde en dit is dae was sy gebruik het om almal om haar gelukkig te maak,” het Lorna gesê.
“Alles wat sy kon uitdeel, insluitend liefde, vriendskap, blydskap, vreugde en kennis het sy met ‘n glimlag gedoen.
“Sy was ‘n baie toegewyde persoon wat ‘n groot leemte gaan laat.”
Teen druktyd was die presiese oorsaak van Hester se dood nie bekend nie, en die begrafnisreëlings was nog nie gefinaliseer nie.



