Plaaslike naaldwerkster behaal tweede in Bernina naaldwerkkompetisie
'n Plaaslike kind, wat naaldwerklesse by ontwerper Elyna Wasserman ontvang, het onlangs aan die Bernina Dress Your Style kompetisie deelgeneem.
Katryn Ahlers, ’n graad-vier-leerder aan Laerskool Die Arend, het onlangs aan die Bernina Dress Your Style-naaldwerkkompetisie deelgeneem, waar sy met ’n tweede plek weggestap het.
Sy is ’n naaldwerkstudent van die ontwerper Elyna Wasserman (22), oor wie die Herald voorheen berig het. Sy woon al die afgelope drie jaar naaldwerkklasse by, en haar passie vir naaldwerk het reeds op ’n jong ouderdom begin.
Die uitdaging van die kompetisie was om ’n ou hemp en broekie op ’n kreatiewe manier te vernuwe deur ’n kombinasie van masjienwerk en handwerk, en Katryn het ’n elegante wit-en-blou-uitrusting geskep.

Sy het die skouers van die hemp en dele van die kortbroek met knope versier, wat elkeen met die hand vasgewerk is. Sy het die rug van die hemp deurgesny en ’n ingewerkte, geplooide paneel aangebring om ’n korset-effek te skep.
Sy het ook een van die hemp se moue verwyder om ’n asimmetriese voorkoms te kry en die broekie verder versier met lang stroke materiaal wat aan die soom vasgewerk is.
Haar harde werk en kreatiwiteit het haar ’n tweede plek besorg en haar ook ’n geskenkpakkie met naaldwerkbenodigdhede laat wen.




