Jasse en komberse verlig die nood
Sowat 85 mense, wat mans, vroue en kinders ingesluit het, het onlangs met dankbare harte by die kantoor van die Ondersteuningsraad uitgestap.
Die organisasie sorg elke jaar dat ‘n groot groep mense ten minste ‘n kombers kry vir skuiling teen die koue, maar vanjaar het die projek so ietwat van ‘n nuwe baadjie gekry.
Die Ondersteuningsraad het vroeër vanjaar ‘n “Almal dra ‘n jas”-projek aangepak, waar daar met mening jasse bymekaar gemaak is.
Personeel van die Ondersteuningsraad, asook talle vrywilligers, het onlangs, op ‘n Saterdagoggend, reggestaan om vir die sowat 85 mense elkeen iets te ete te gee, en daarby het elkeen ‘n kombers en ‘n jas ontvang.
“Ons hoop om hierdie projek nog vir baie jare elke jaar aan te pak en ons hoop om in die toekoms net so, en nog meer suksesvol te wees,” het Mona Loubcher, maatskaplike hulpwerker van die Ondersteuningsraad, gesê.
“Ons is ook baie dankbaar vir almal wat ‘n skenking gemaak het en hulp verleen het op die dag,” het Loubcher bygevoeg.



