Groot tamatie verras tuinman
Alhoewel Attie Gertenbach 98 jaar oud is, skram hy glad nie weg daarvan om steeds sy hand in die tuin en huis te hou nie.
Dié vriendelike inwoner van Brenthurst is baie lief daarvoor om tuin te maak en sy groentetuin is sy trots.
Maar hy was die afgelope tyd self verbaas toe hy ‘n tamatie, aan een van sy plante sien, wat net nie ophou groei het nie.
“Ek het die mooi rooi tamatie Vrydag gepluk en kon self nie glo toe dit omtrent ‘n driekwart kilogram weeg nie,” het Gertenbach gesê.
“Ek het nog nooit so ‘n groot tamatie gesien nie ,” het hy bygevoeg.
Hy vertel trots dat hy self al sy goente vries en dat daar op die oomblik ‘n hele paar kooksels groente van alle soorte in sy vrieskas is.
Verder kook hy ook graag konfyt en sy tweede vrou Hettie (85), met wie hy die afgelope 14 jaar getroud is, sit graag hand by.
“Sy help darem mooi maar ai, sy kan ook maar kritiseer,” het hy tong in die kies gespot.



