Is jy talentvol? Wen R5 000 kontant
Die NG Kerk Dalpark se jaarlikse fees vind op 31 Julie en 1 Augustus plaas. Vanjaar se fees sluit ’n padkafee en kermis in.

Vrydagaand gaan daar ‘n padkafee op die kerkterrein wees en besoekers sal kan smul aan heerlike padkafeekos.
Daar sal ook talle interessante speletjies gespeel kan word. Saterdag word daar op groot skaal kermis gehou met vermaak vir jong en oud met springkastele, stalletjies en vele meer wat die hele gesin lekker besig sal hou.
Die hoogtepunt van die fees is ‘n talentkompetisie, We’ve Got Talent, wat oor die twee feesdae aangebied word. Die wenner kan met ‘n allemintige kontantprys van R5 000 wegstap.
“Deelnemers kan met enige talent, wat hulle het, kom deelneem aan die opwindende kompetisie,” het een van die organiseerders gesê.
Professionele beoordelaars sal die kompetisie, wat in die kerk se geboue aangebied word, beoordeel.
“Dié kompetisie was die afgelope paar jaar ‘n reuse sukses en daar word gepoog om dit weer op die hoë standaard, van vorige jare, aan te bied,” het die organiseerder gesê.
Die inskrywingsfooi beloop R50 per deelnemer en vorms en meer inligting is op die kerk se webblad beskikbaar.



