CrimeEditor's choiceLocal newsNews

Vrou wat bid tydens huisroof word erg geslaan

’n Brenthurst vrou, wat tydens ’n huisrooftog hardop gebid het, is meermale hard oor die kop geslaan deur een van die booswigte.

Die vrou (59), wat in Afrikaans begin bid het, is deur een van die rowers beveel om Engels te praat.

Sy het voortgegaan om hardop in Engels te bid en elke keer as sy “Jesus Christ” geuiter het, het sy ’n harde hou teen die kop gekry.

“Dit was ongelooflik seer maar ek het aanhou bid, want ek het geglo dit is die enigste manier om die boosheid af te weer,” het die vrou, wat gevra het om anoniem te bly, gesê.

Sy en haar vriend (43) het Sondag ongeveer 11.45vm by haar huis in Hoffmeyerstraat, Brenthust teruggekeer na ’n kerkdiens.

“Ons was vroeër as gewoonlik terug en ek glo dat ons die skelms onkant betrap het,” het die vrou gesê. Sy het eerste die huis binnegestap en reguit na haar slaapkamer geloop.

“Toe ek omdraai het daar ’n man in die gang afgekom. Hy het vir my gesê ek moet stilbly, my gegryp en na die kamer geneem.”

“Op dié stadium het ek gesien hoe nog twee mans met my vriend die huis binnekom. Ons is albei vasgebind, rondgepluk en geslaan.”

“Die mans wou die hele tyd weet waar die `valuables’ en vuurwapens was. Ek was vreesbevange en het besluit om hardop te bid.”

Die rowers het later haar vriend binne-in die badkamer toegesluit. “Hulle het ook ‘n skêr, wat in my kamer was, geneem en probeer om sy vinger daarmee te sny.”

Die booswigte het gedreig om haar saam met hulle te neem. “Genadiglik het die mans, nadat hulle my motorsleutels geëis het, die huis verlaat. Toe ek hoor dat hulle by die hek uit is, kon ek daarin slaag om myself los te wikkel en na buite gegaan om die bure se aandag te trek.”

’n Buurman het die badkamerdeur oopgebreek om die vrou se vriend te bevry.

Die drie rowers het ook selfone en ander waardevolle items geneem.

“Ek glo ons is dopgehou omdat ons elke Sondag kerk toe gaan. Hierdie keer was ons net vroeër tuis as gewoonlik.”

“Ek is ook oortuig daarvan dat ek die drie mans by ’n vorige geleentheid in die straat sien loop het.”

Die voorval is by die SAPD aangemeld en word ondersoek.

Lees ook:

Customers threatened during business robbery

Ouers en seun op bed vasgemaak, geslaan, gedreig en beroof

Seun kom op sy vermoorde pa af

Three years sentence for housebreaking

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button