Kwadfietsryers is nie meer hier welkom nie
Kwadfietsryers, wie die inwoners in die omgewing van Hamiltonlaan teen die mure uitgedryf het, se lekker rond jaag dae is nou verby.
’n Groot oop stuk veld wat aan Hamiltonlaan grens, was oor die afgelope jare ’n paradys vir kwadfietsryers, wie veral oor naweke na hartelus daar rondgery het.
Na vele desperate pogings en dreigemente van die inwoners het die Ekurhuleni Metro onlangs aksie geneem om die area verbode te maak vir kwadfietsryers.
Borde, wat aandui dat motorfietse en derhalwe kwadfietse nie in die area gery mag word nie, is op verskeie plekke aangebring.
’n Inwoner van Hamiltonlaan, wie versoek het dat sy naam nie gepubliseer word nie, het gesê dat die situasie veral oor naweke ondraaglik was.
“Ons het net nie meer rus en vrede gehad nie en die hoeveelheid stof wat ons moes verduur was ook heeltemal onaanvaarbaar,” het die man gesê.
“Daar was soms lelike konfrontasies tussen die kwadfietsryers en die inwoners.”
Volgens hom is daar, sedert die aanbring van die borde, rus en vrede.
Lees ook:
Ondersoek na skietery oor kwadfiets voorval byna afgehandel
Twee mans in Minnebron geskiet na geveg oor kwadfiets wat stof maak



