Dief, wat veral eiendomsagente inloop, vandag in die hof
'n 34-jarige man, wat vir ‘n hele rits oortredings in verskeie dorpe gesoek word, is Woensdagaand deur Brakpan se anti-kapingseenheid in Moreletta Park in hegtenis geneem.

Die man verskyn vanoggend (Vrydag) in die Brakpan Landdroshof op twee aanklagte van diefstal. Dié twee aanklagte is blykbaar net ‘n druppel in die emmer.
Kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD, het bevestig dat daar sake teen die man ondersoek word in, onder andere, Benoni, Boksburg, Valeria in Johannesburg en Charl Cilliers in Mpumalanga.
Volgens inligting word daar al lank na die man gesoek.
Hy was veral vir eiendomsagente ‘n nagmerrie, aangesien hy homself glo voorgedoen het as ‘n voornemende huiskoper.
Hy het na bewering dan huishoudelilke items uit die huise gesteel.
Volgens Joubert het die anti-kapingseenheid inligting opgevolg, wat gelei het tot die man se arrestasie in Moreletta Park.



