Bekende akteurs op filmstel by Jan Smuts Dam
Dit was ligte, kamera, aksie toe die Herald verlede Woensdagaand op die filmstel van 70 x 7 by die Jan Smuts Dam gaan kuier het.
Dié nuwe Afrikaanse film vertel van ’n onderwyseres wie, nadat sy haar seun in ’n tragiese ongeluk verloor het en haar man nie daarvoor kan vergewe nie, haarself gaan hervestig op ’n plattelandse dorpie. Sy ontmoet ’n kluisenaar wie al vir jare ’n donker geheim weg steek.
Met bekende kunstenaars en akteurs soos Angelique Gerber, Gerhard Steyn, Marcus Muller en Rudi Muller is hierdie beslis ’n film wat fliekgangers op die punt van hul stoele gaan laat sit wanneer dit landswyd in November by Cross Kine teaters begin draai.

Cross Kine is ’n nuwe konsep waar kerke as ’n filmteater dien en dan sodoende ook ’n inkomste daaruit genereer.
Morne Lane, vervaardiger van 70 x 7, en Willie Olwage, regisseur van 70 x 7, het koppe bymekaar gesit en met die idee vorendag gekom om Christelike films by kerke te vertoon, aangesien dit ’n moelike taak sou wees by gewone teaters.
“Mense het nodig om inspirerende films te sien. Ons wil graag ’n verskil in mense se lewens maak en op die manier kan ons soveel mense aanraak,” het Lane verduidelik.
Daar is reeds meer as 200 Cross Kine teaters landswyd.
Kerke, en selfs skole, wat belangstel om as ’n Cross Kine teater te registreer kan die webblad www.crosskine.co.za besoek.



