Local newsNews

Gerugte dat man wat op sypaadjie bly sterf

Gerugte doen die rondte dat Francois Nel (58), wie die afgelope twee jaar met net ’n bed op ’n sypaadjie in Kingswaylaan gebly het, verlede Maandag oorlede is.

Die bejaarde man wat, onder andere, aan epilepsie gely het, het geen ander heenkome gehad nie en voordat ’n weldoener die bed aan hom gegee het, het Francois op die koue sypaadjie geslaap.

Hy is glo verlede Maandag vir die laaste keer gesien en talle haweloses, wat gereeld met hom te make gehad het, is oortuig daarvan dat hy oorlede is.

Volgens een vrou het hy naby ‘n kafee in Voortrekkerweg inmekaar gesak en gesterf.

Die Herald het die eerste keer oor hom geskryf pas nadat hy ’n bed ontvang het. Volgens Francois was dit hemels om in die aande op die bed te kon slaap, eerder as op die sypaadjie.

Francois wat, as gevolg van polio, ook nie die normale gebruik van sy regter arm en linker been gehad het nie, het voertuie in Kingswaylaan opgepas om ’n geldjie te verdien.

Hy het 22 jaar gelede sy werk verloor en kon sedertien nie weer op sy voete kom nie.

Francois het vertel dat dit beslis nie kinderspeletjies was om gedurende die winter so oop en bloot te slaap nie.

Daar was ook kere dat hy lastig geval en aangerand is.

Francois was getroud, maar is jare gelede geskei en het ook geen kontak met sy kinders gehad nie.

Hy het ’n broer, Johan (49), wie self sukkel en nie vir hom ’n heenkome kon bied nie. Die Herald het gepoog om Johan op te spoor, om duidelikheid oor die bespiegelinge te kry, maar kon nie daarin slaag nie.

Volgens mense wat self op straat woon en vir Francois lank geken het, het sy gesondheid die afgelope tyd erg verswak.

Een van die motorwagte, wat hom goed geken het, het aan die Herald gesê dat iemand, wat losies aan ander bied, reeds sy bed kom oplaai het.

“Die sypaadjie lyk skoon snaaks sonder oom Francois se bed,” het die vrou gesê.

Die Herald het met verskeie van die hawelose mense, wat in die wandellaan slaap, gepraat en volgens almal daar is Francois oorlede.

Navraag aan die staatslykshuis in Springs het ook niks opgelewer nie.

Kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD, het ook gesê dat daar nie ‘n voorval by die SAPD aangemeld is nie.

Lees ook:

Bejaarde se huis is net ‘n bed op ‘n sypaadjie

Besigheidsmense mor oor haweloses

Groot kommer oor haweloses in die dorp wat net meer raak

Related Articles

Back to top button