CrimeEditor's choiceLocal newsNews

Die koeël is deur die dak

’n 34-jarige inwoner van Muirlaan het vandeesweek ’n saak by die SAPD aangemeld nadat ’n koeël in sy bad gevind is.

By nadere ondersoek het dit aan die lig gekom dat iemand in die omgewing ’n skoot moes afgevuur het, aangesien daar duidelike skade aan die binne- en buitekant van die huis se dak is, waar die koeël dit getref het voor dit in die bad te lande gekom het.

Die inwoner, wat versoek het dat sy naam nie gepubliseer word nie, is veral ontsteld aangesien sy vrou, een week oue seun en hul vier-jarige dogtertjie normaalweg by die huis is.

“Gelukkig was daar Maandag niemand by die huis toe die koeël deur die dak gekom het nie. Dit kon enige van my gesinslede getref het,” het die man gesê.

Volgens hom blyk dit dat die patroon afkomstig kan wees van ’n 45 kaliber vuurwapen.

“Nadat ons by die huis gekom het, het my vrou badwater getap en die voorwerp in die bad gesien. Ek het ondersoek ingestel en gesien dat dit inderdaad deur die dak gekom het en in die bad beland het.”

“Dit sal moeilik wees om vas te stel wie die verantwoordelike persoon is, maar daardie persoon moet besef hoe onverantwoordelik hy of sy was. Ek hoop dat die ondersoek kan lei tot die opsporing van die skuldige en dat die persoon van nalatigheid aangekla word en sy of haar vuurwapen teruggeneem word,” het die man gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button