Inbrekers bind Minnebron egpaar vas in bed
Een van die grootste vrese wat enigiemand het, is om in die nag wakker te skrik met ’n inbreker wat reg langs die bed staan.

’n Egpaar van Bertie Meyer Singel in Minnebron het Saterdagoggend vroeg dié nagmerrie beleef toe hulle deur drie rowers in hul huis oorval is.
Die man (39) en sy vrou (37), het versoek dat hul name nie gepubliseer word nie, is baie dankbaar dat hul kinders (11 en 13) op dié aand nie by die huis geslaap het nie.
Die inwoner vertel dat hy ongeveer 2vm Saterdagoggend wakker geskrik het toe hy gedink het dat hul kat op hom gespring het.
“Toe ek my oë oopmaak het iemand ’n flitslig in my gesig geskyn en gesê dat ek moet omdraai,” het die man vertel.
“Alles het so vinnig gebeur. ’n Mens het absoluut geen tyd om te reageer nie.”
Die man en sy vrou is beveel om op hul bed te bly en beide se hande en voete is met dasse vasgebind.
“Ek het drie inbrekers gesien en ten minste een van hulle het ’n vuurwapen gehad,” het die man verduidelik.
Die man is ook hard op die enkel geslaan en die vuurwapen is deurentyd teen sy kop gedruk.
Die rowers wou weet waar die kluis se sleutel was. Hulle het verskeie items insluitend selfone, skootrekenaars, juwele, kameras, televisies en sleutels bymekaar gemaak voordat hulle op die vlug geslaan het.
“Ek het op ’n stadium gehoor hoe een van hulle oor sy selfoon praat, maar ek kon nie die taal verstaan nie,” het die man gesê.
Nadat alles rustig geraak het, kon die vrou daarin slaag om haarself los te wikkel waarna sy haar man se hande en voete kon losmaak. Hulle het hulp ontbied deur middel van ’n familielid wat op die perseel woon.
Die voorval is by die SAPD aangemeld en word ondersoek.
Lees ook:
So maak jy diewe se lewe baie maklik
Bekende in die vermaaklikheidswêreld saam met sy gesin beroof en aangerand
Hijackers take off with victims still in the car
Minnebron man (24) recovers at home after being shot
Man (51) beaten and dumped at school after hijacking



