Motorfietsryer se doodskis op wiele laat monde oophang in Brakpan
Rusty Pool slaap ook sommer in die kis wanneer hy by 'n motorfietsaamtrek is en vertel dat dit heel gemaklik is.
’n Driewielmotorfiets wat ’n houtdoodskis op ’n waentjie agterna sleep, was Sondag die spreekwoordelike “showstopper” by die Just Wheels Motorklub se maandelikse opedag.
Besoekers aan die motorskou het hulle behoorlik aan die ongewone ryding vergaap, en die eienaar, Rusty Pool (64), was gou byderhand om met groot humor die storie agter die doodskis op wiele te vertel.
Met sy Easy Rider-leerbaadjie, grys bokbaardjie wat met rekkies vasgebind is en verskeie bonkige silwerringe het hy geduldig almal se vrae beantwoord.
Kort-kort het hy die harde toeter van die ryding laat hoor, tot groot vermaak van die besoekers.
Rusty, ’n Kapenaar wat die afgelope nege jaar in Cullinan woon, is al baie jare ’n motorfietsryer, of “biker”, soos hy dit verkies.
Toe hy by vriende van Just Wheels se opedag hoor, moes hy eenvoudig plan maak om na Brakpan te ry.

Die tema van die opedag was hierdie maand “Bikes and trikes”, en Rusty het geweet sy opset sou vir iets unieks sorg.
Hy was inderdaad nie verkeerd nie, en talle besoekers het foto’s geneem en geselsies met Rusty aangeknoop. Hy was meer as gewillig om sy storie te deel.
Hy het vertel dat hy die driewielmotorfiets self opgebou het deur ’n Volkswagen Beetle te gebruik.
“Ek het aanvanklik nie die kis op die sleepwa gehad nie en het maar altyd my goed in ’n houttrommel in die agterste gedeelte van die Beetle, wat nou eintlik ’n ‘bike’ was, gepak,” het hy vertel.
“Op motorfietssaamtrekke het almal my altyd gevra om hul goed te vervoer, omdat ek ’n bietjie meer spasie gehad het. Toe het ek besluit om ’n beter plan te maak.”

Hy het ’n houtdoodskis op ’n sleepwa gemonteer en só baie van die idee gehou dat hy dit sommer as ’n slaapplek ingerig het.
“Wanneer ek by ’n motorfietssaamtrek is, maak ek die kis se deksel oop en slaap sommer daarin.
Daar is ’n gemaklike matras en ’n radio in. Ek het ook hakies aan die deksel aangebring sodat dit oop kan bly.
“Ek span selfs ’n klein afdakkie oor my kis en dan bly ek lekker,” het Rusty vertel.
Hy het ook tong-in-die-kies gewys na die woorde “Mother in law in transit” wat hy op die kis aangebring het.

“Natuurlik is dit alles net vir die pret. Dit is mos lekker om ’n bietjie humor ook in ons lewens te hê.”
Uit die aard van die saak trek sy ryding groot aandag wanneer hy op die pad is.
“Ek geniet die mense se reaksies wanneer hulle my ryding sien,” het hy laggend vertel.
Rusty en sy doodskis op wiele kom al ’n lang pad saam, en vir nou het hy absoluut geen planne om daarvan ontslae te raak nie.
OOK LEES: EMPD alleges SAPS interference during drug arrest in Brakpan
OOK LEES: East Rand Palliative Care turns a new page after decades of service



