SAPD bied massa rit teen misdaad aan
Die SAPD Brakpan-kluster en die Brakpan Gemeenskapspolisiëringsforum (bekend as die CPF) bied op Saterdag, 7 November, 'n 70km massa rit teen misdaad aan.

Die Brakpan-kluster bestaan uit die Brakpan, Tsakane, Boksburg, Boksburg-Noord en Reigerpark polisiestasies.
Die massa rit begin om 7.30vm vir 8vm, vanaf Carnival City en sal by Annemarie’s Pub & Grill, op die hoek van Turf- en Casonweg, in Boksburg, eindig.
“Die kernpunte waarop ons wil fokus is om die moord van polisiebeamptes te stop, om te wys dat motorfietsryers en die CPF saam staan teen misdaad, om vroue- en kindermishandeling te stop en dwelm- en alkoholmisbruik te stop,” het kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan Polisiestasie, gesê.
Die toegangsfooi is R20 en sluit ‘n embleem in.
“Enigiemand is welkom om deel te neem aan die massa rit. Die opbrengs sal gebruik word om die CPF te help om misdaad te bekamp,” het Joubert bygevoeg.
Vir meer inligting, kontak vir Herman Heunis by 079 283 4867.



