Eksklusief: Majoor Coert Jordaan se vrou praat met die Herald oor haar man se dood
Die mooi, donkerkop vrou van maj Coert Jordaan (39), wat verlede Woensdag langs die vis water vermoor is, het Maandagmiddag met die Herald gesels.
Angelique Jordaan (30) het vanuit die egpaar se huis in Sunair Park gesê dat alles nog onwerklik voel en dat sy self nie eens haar emosies kan beskryf nie.
Haar en maj Jordaan se skatlike blondekop dogtertjie Klarebel (2) het kort-kort op haar ma se skoot geklouter.
“Coert en Klarebel was onafskeidbaar. Sy was sy oogappel. Hulle was soos ’n “torch en battery” (flitslig en battery),” het Angelique gesê.
Sy vertel dat maj Jordaan Woensdagmiddag op ’n sekere tyd by die huis sou wees, na sy visvang uitstappie.
“Coert het altyd by tyd en reëlings gehou en toe ek om 4.30nm by die huis kom was ek bekommerd dat hy nog nie by die huis was nie.”
“Ek het al hoe meer onrustig geraak hoe later dit geword het.”
“’n Vriendin het my so teen 6nm gebel en gevra of ek ok is. Ek het gesê ek is, en sy het gevra of sy kan kom koffie drink. Ek het gedink dis bietjie vreemd, maar ek het gesê dis reg.
“Voordat my vriendin die foon doodgedruk het, kon ek hoor sy sê dat ek nog nie weet nie.”
“Onmiddellik daarna het ’n kollega van Coert gebel en gesê hy is by die hek.”
“Ek het toe geweet dat daar groot fout is, maar dat my man vermoor is, was die laaste ding wat deur my kop gegaan het.”
Lede van maj Jordaan se eenheid het die slegte nuus aan Angelique oorgedra.
“Ek kan nie sê wat op daardie oomblik deur my kop gegaan het nie. Ek weet nog steeds nie wat ek op daardie oomblik gedink het nie. Alles sal seker later duideliker word.”
Angelique sê sy is baie verlig dat die verdagtes aangekeer is. “Hulle dag sal kom,” het sy gesê.
Sy vertel dat haar man saggeaard was en altyd bereid was om te help.
“Coert kon ongelooflik mooi teken en natuurlik was hy mal oor perde. Hy het elke oomblik van sy werk geniet, maar wanneer hy by die huis was, was hy die beste man en pa ooit.”
Angelique het nie sy passie vir perde gedeel nie. “Ek is doodbang vir ’n perd,” het sy vertel.
Die gesin het verlede jaar gedurende Augustus ’n vakansie by die see geniet. Die vrolike foto’s van ’n hegte gesin, wat in die branders staan, laat ’n mens net weer besef hoe tragies maj Jordaan se sinnelose moord is.
Angelique sê dat sy vir eers geen drastiese besluite gaan neem nie. “Ek wil vir eers hier in ons huis bly. Ek wil vir nou wees waar ek en Coert so gelukkig saam was.”
Maj Jordaan is verlede Woensdag vermoor toe hy by Aston Lake in Springs vis gevang het.
Lees ook:
EMPD lid langs viswater vermoor
Burgemeester van Ekurhuleni veroordeel maj Coert Jordaan se moord ten sterkste



