Jong vrou spoor self haar foon op toe dief dit steel
“Vrydag het dit aangedui dat die foon in Benoni is, en Maandagoggend het ek die sein in Tsakane opgetel.”

Toe ‘n 20-jarige vrou van die dorp se peperduur iPhone 6s verlede Donderdagaand by ‘n kuierplek in Boksburg gesteel is, het sy dadelik begin speurwerk doen om haar kosbare besitting terug te kry.
Maandagoggend was sy baie verlig toe sy, danksy die hulp van die Brakpan Anti-kapingseenheid, haar foon by ‘n huis in Tsakane opgespoor het.
Deneke Duvenage het vertel dat sy verlede Donderdag, om ongeveer 11nm, agter gekom het dat haar foon vermis is.
“Ek het navraag gedoen, maar dit het niks opgelewer nie en selfs die volgende dag na die plek teruggegaan, maar daar was steeds geen spoor van my foon nie,” het Deneke vertel.
Gelukkig vir haar het sy ‘n toepassing (App) op haar foon gehad wat haar in staat gestel het om die foon se sein op te spoor.
“Vrydag het dit aangedui dat die foon in Benoni is, en Maandagoggend het ek die sein in Tsakane opgetel,” het Deneke gesê.
Sy en haar niggie, Milany Immelman, is saam met lede van die Anti-kampingseenheid na die adres in Tsakane, waar hulle ‘n jong vrou aangetref het.
“Die vrou het my foon uit ‘n kamer gaan haal en aan my oorhandig,” het Deneke vertel.
“Sy het ‘n flou verskoning gehad dat haar kêrel vir haar die foon gegee het.”
Die vrou is nie gearresteer nie, aangesien Deneke besluit het om nie ‘n saak van diefstal aanhangig te maak nie.
“Ek wou net my foon terug hê en ek is baie dankbaar teenoor die lede van die anti-kapingseenheid wat bereid was om moeite te doen sodat ek dit kon terug kry,” het sy gesê.
Lees ook:
Diewe steel agt vragmotorbatterye
Suspicious driving leads to arrests



