CrimeEditor's choiceNews

Rowers sê hul sal baba vat

Drie rowers, waarvan een ‘n vuurwapen gehad het, het Donderdagoggend gedreig om ‘n baba uit haar stootwaentjie te vat indien die ma nie waardvolle items aan hulle sou oorhandig nie.

Linda Taljaard (28) het die nagmerrie ondervinding net na 11vm beleef toe sy haar drie maande oue baba, AJ-Lee Pretorius, in haar stootwaentjie in Highstraat gestoot het.

“Ek was saam met my swaer, Gustav de Wet (23), op pad na sy woonplek en ons was op die hoek van Highstraat en Hastingslaan toe drie mans van voor aangeloop gekom het,” het Taljaard vertel.

“Toe hulle by ons kom, het een van die mans aan my baba se stootwaentjie geruk en gesê dat ons waardevolle goed aan hul moet oorhandig anders gaan hulle die baba vat.”

“My swaer het dadelik vir AJ-Lee uit die stootwaentjie gehaal en gesê dat hulle alles kan vat, maar dat hulle die baba moes uitlos.”

“My handsak was in die stootwaentjie. Hulle het dit gegryp en weggehardloop,” het Taljaard vertel.

Binne in die handsak was R500 kontant, die kind se kliniekkaart, bankkaarte wat aan Taljaard se verloofde, Jurie Pretorius (32), behoort asook haar verloofring, ‘n hangertjie en ‘n tablet.

Die handsak is later by die SAPD ingehandig. Die kontant en juwele was weg, maar die tablet, kliniek- en bankkaarte was darem steeds daar.

“Ek is dankbaar dat ons dit darem teruggekry het, maar ek is nog meer dankbaar dat my kind niks oorgekom het nie,” het Taljaard gesê.

Die voorval is by die Brakpan SAPD aangemeld.

Lees ook: 

Egpaar ingewag by huis: Vrou vertel van angsvolle oomblikke 

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button