Egpaar se huwelik skitter soos ‘n diamant
“Dit is snaaks dat ‘n mens net iemand kan ontmoet en dat dinge sommer dadelik net uitwerk.”
Pat (81) en Hannetjie Smit (79) van Minnebron het gister (Donderdag) hul 60ste huweliksherdenking gevier.
Die egpaar het mekaar ontmoet toe ‘n vriendin ‘n ontmoeting tussen die twee gereël het.
Volgens Hannetjie het sy die eerste keer, toe sy Pat sien, gedink dat hy regtig ‘n “smart” man was en van toe af is was die koeël deur die kerk.
“Dit is snaaks dat ‘n mens net iemand kan ontmoet en dat dinge sommer dadelik net uitwerk,” het sy gesê.
Die egpaar het in Benoni getrou en onthou die spesiale dag in hul lewe baie goed.

“Ons het skaapboud en vark gehad en het al die ander kos self gemaak. Daar is tot laat in die aand gedans,” het Hannetjie gesê.
Die twee het geweet dat hulle ewige trou aan mekaar beloof, maar het nooit gedink dat hulle die voorreg sal kan beleef om hul 60ste huweliksherdenking te vier nie.
“Baie mense wat op ons troue was, is reeds oorlede, maar hier sit ons twee nog,” het Hannetjie gesê.
“Die Here is baie goed vir ons.”
Pat sê dat dat ‘n mens maar geduldig, gedienstig en gedweë moet wees.
Die egpaar het kort na die geboorte van hul eerste dogter ‘n plot in Brentwood Park gekoop waar al ses hul kinders grootgeword het.
Daarna het hulle ‘n huis in Rynfield gekoop waar hulle gewoon het totdat hulle 15 jaar gelede na Brakpan verhuis het.
Pat en Hannetjie het drie seuns en drie dogters, 15 kleinkinders en 12 agter kleinkinders.
Lees ook:
Egpaar steeds verlief na 60 jaar



