
’n 33-Jarige vrou en haar 12-jarige seun is Vrydagoggend erg getraumatiseerd gelaat toe hulle by dié duikweg met ’n vuurwapen gedreig is.
Twanet Compaan het vertel dat sy haar seun Johan, soos ouder gewoonte, by die skool gaan aflaai het.
“Ek het by die verkeerslig stilgehou. Daar was ’n voertuig voor my en ’n vragmotor langs my.
“Toe ek weer sien, was daar twee mans reg langs my Corsa.
“My ruit was ’n entjie oop en die een het dit verder probeer afdruk en terselfdertyd die deur probeer oopmaak.
“Hy het gesê hy soek my `wallet’,” het Compaan vertel.
“Op dié stadium het die een man na die agterkant van my motor beweeg, maar die een by my het sy hemp opgelig en ’n vuurwapen getoon.
“Ek het aanvanklik gedink hy wil my net skrikmaak maar die volgende oomblik het hy die vuurwapen op my kind gerig.
“Uit die aard van die saak was ek en my kind histeries. Ek het geskreeu en aandag probeer trek maar niemand het gereageer nie.”
Compaan kon uit die gevaarlike situasie kom toe die verkeerslig na groen verander en die voertuig voor haar begin ry het.
“Ek kon sien hoe die mans weghardloop maar ek kon ook sien hoe die een nog vir my middelvinger wys.”
“Dit is vir my moeilik om die trauma en angs waardeur ’n mens gaan te beskryf. Dit het so vinnig gebeur en ek is net baie dankbaar dat my deur gesluit was.”
Nog ’n inwoner, Chantel Dempsey (39) se pad het het verlede Maandagoggend waarskynlik met dieselfde twee booswigte gekruis.
Dempsey het ook in die duikweg by ’n rooi verkeerslig gewag toe twee mans by haar venster verskyn het.
“My venster was ’n entjie afgedraai en die volgende oomblik was daar ’n vuurwapen teen my kop.”
“Die man, wat die vuurwapen op my gerig het, het gesê ek moet my selfoon aan hom oorhandig.
“So baie dinge gaan op daardie oomblik deur jou kop maar ek het besluit om, vir my eie veiligheid, my foon aan hom te oorhandig.
“Hy het toe die foon in sy sak gesit en die vuurwapen voor by sy broek ingedruk.
“Die lig was steeds rooi en die man het geld geëis.
“Ek het die geleentheid aangegryp om pepersproei, wat in my handsak was, te kry en na die man te spuit.”
Op dié stadium het die verkeerslig na groen verander en kon Dempsey wegry.
Kapt Pearl van Staad, woordvoerder van die Brakpan SAPD het gewaarsku dat vroue en kinders veral versigtig moet wees.
Sy het aangedui dat ’n skoolleerder ook onlangs van haar selfoon en skooltas beroof is.
“Motoriste moet hul deure gesluit hou en hul motorruite toe hou,” het sy gesê.
“Waardevolle besittings soos selfone, handsakke en rekenaars moet nie sigbaar wees nie en verkieslik in die kattebak gebêre word,” het sy gesê.
Lees ook: Rower oorval vrou by kerk, skiet daarna bejaarde diaken
Huisrowers verniel bejaarde inwoner: Sit op haar en dreig met mes
Follow us:



