Jong kind (8) sorg vir groot blydskap
’n Goedhartige kind wat haar ontferm het oor ’n verlore hondjie het onlangs vir groot blydskap gesorg.
Toe Luca-Leigh Nieuwoudt (8) verlede week ’n bang worshondjie in Austinstraat, Brenthurst raakgesien en huis toe geneem het, het sy geen idee gehad dat baie mense rasend op soek was na die hond nie.
Die worshond behoort aan Christiene Vermaak (56), wat in Pienaarstraat, Brenthurst woon.
Sy was sedert verlede Donderdag in die hospitaal en moes noodgedwonge haar hond by ’n familielid, wat in Beggstraat, Brenturst woon, laat.
Die hond het dieselfde dag nog uit die erf gekom en almal het begin soek.
“Ek het egter geen idee gehad dat my hond weggeraak het nie, aangesien daar besluit is om my nie in die hospitaal te ontstel nie.”
Christiene is Saterdag ontslaan en is toe eers meegedeel dat haar hond weg is.
“Ek was platgeslaan en baie hartseer. Alhoewel ek die hondjie nog net twee maande het, het ek baie lief geword vir haar. Sy was ’n bang hondjie toe ek haar gekry het en die afgelope twee maande het daar ’n spesiale band tussen ons ontwikkel.”
Luca-Leigh se ma, Zeanene, het vertel dat haar kind die hondjie in die straat gekry het en huis toe geneem het.
Lees ook: Klein Dalwers is diereliefhebbers
“My kind het gesê sy glo dat ’n wonderwerk sal gebeur en dat die hondjie en die eienaar weer bymekaar sal uitkom.
“Ons het intussen op sosiale media bekendgemaak dat ons die hondjie het en gelukkig het dit so uitgewerk dat die eienaar na vore gekom het,” het Zeanene vertel.
Christiene was verheug toe sy en haar hondjie weer herenig is.
“Ek is baie dankbaar teenoor Luca-Leigh en haar gesin wat so mooi na my hond gekyk het.
“Daardie dogtertjie en almal wat my bygestaan het in die hospitaal en na die tyd moet ’n groot dankie van my af kry,” het Christiene gesê.
Volg ons:



