Houtkruis waar oorledene in veld gevind is, is ‘n raaisel
Die optrede van ’n onbekende persoon, nadat ’n man dood in ’n park in Brenthurst gevind is, het nie ongesiens verby gegaan nie.
Iemand het ’n houtkruis gaan plaas op die plek waar Jannie Swanepoel (66) se lewelose liggaam op 29 Junie gevind is.
Sy familie het groot waardering vir dié gebaar en wil graag met die verantwoordelike persoon in verbinding tree.
Die oorledene se skoonsuster, Godie Robertson, het aan die Herald gesê dat haar swaer, wat in Brenthurst by hulle gewoon het, Donderdagoggend (28 Junie) uit die huis uit is en dat hy nie Donderdagaand terug gekeer het nie.
’n Verbyganger het Swanepoel se lewelose liggaam die volgende oggend onder ’n boom in die park, wat aan Millicentstraat grens, raak gesien en die nooddienste asook die SAPD is ontbied.
Lees ook: Drie maats se goeie daad vat die koek
Volgens Godie is haar swaer aan natuurlike oorsake dood.
“Iemand het ’n dag of twee na die ongelukkige voorval ’n houtkruis teen die boom gaan plaas waarop staan: Rus in Vrede en PS 23,” het Godie gesê.
“Toe ons die begrafnisreëlings tref het ek vir die priester gevra wat hy gaan voorlees en hy het gesê Psalm 23. Dit was vir my baie betekenisvol aangesien die onbekende persoon ook na daardie Psalm op die kruis verwys het,” het Godie gesê.
“Ons wil graag die persoon wat die kruis daar gaan plaas het persoonlik bedank,” het sy bygevoeg.
Godie kan gekontak word by 083 472 7336.
Volg ons:



