Die Solidariteit Helpende Hand Polar Plunge laat deelnemers bibber
Solidariteit Helpende Hand se Oos-Rand streek het 'n “Polar Plunge” ysbad fondsinsameling gehad, en Brakpanners het opgedaag vir hul gemeenskap.
Solidariteit Helpende Hand se Polar Plunge-fondsinsameling het op 24 Oktober by die Alberton Rugbyklub plaasgevind, waar deelnemers en ondersteuners van verskeie takke aan die Oos-Rand in yswater gebad het om verskeie pryse los te slaan.
Die ingesamelde fondse gaan na die organisasie se Studietrust, wat rentevrye lenings aan studente bied, asook na bykomende befondsing vir plaaslike skoolprojekte.
Brakpan was goed verteenwoordig by die geleentheid, met verskeie sportlui, raadslid- en wyksraadskandidate en nie-winsgewende organisasies wat deelgeneem of ondersteuning gebied het.

Raadslid en wyksraadslidkandidaat Riaan van Zyl het die eerste plek in sy groep behaal deur ’n indrukwekkende uur en ’n half in die yswater deur te bring. Plaaslike kragoptelatleet Pieter Vorster het hom ondersteun.
Die San Michele-tehuis vir volwassenes met gestremdhede het ook ’n stalletjie by die geleentheid gehad om die breër gemeenskap bewus te maak van die tehuis se dienste, behoeftes en bestaan.
Deelnemers moes ’n kontantskenking aan die Studietrust maak om te kon deelneem.




