In die kollig: Leer vir Leticia Fourie ken
Leticia Fourie is in die Herald se kollig die week.
Leticia Fourie (41) is onlangs as die verpleegbestuurder (matrone) by die Life Dalview Hospitaal aangestel. Sy is getroud met Rudi (48) en die egpaar woon in Brenthurst.
• Hoe lank is jy al in verpleging?
Vier-en-twintig jaar.
• Vertel meer van jou loopbaangeskiedenis?
Ek het verpleging begin swot direk nadat ek matriek voltooi het. Ek het my vier jaar akademiese loopbaan deur SG Laurens te HF Verwoerd Hospitaal in Pretoria voltooi. Daarna het ek by die Life Glynnwood Hospitaal in Benoni begin werk toe ek 22 jaar oud was. Ek het in die neuro-chirurgiese saal en trauma-afdeling gewerk. Ek het vandaar na die Netcare Linmed Hospitaal in Benoni geskuif waar ek vir amper sewe jaar in die kraamafdeling as vroedvrou gewerk het. Vandaar het ek vir ’n jaar ’n pos by die Life Glynnwood Hospitaal se kraamafdeling gehad, waarna ek ’n bevordering as eenheidsbestuurder by die Life Bedford Gardens Hospitaal gekry het. Daar het my loopbaan vlerke gekry en ek het nog ’n bevordering na verpleegstandaardbestuurder gekry. Ek het dié pos vir vyf jaar gevul. Ek het op 1 Junie 2018 ’n bevordering gekry as verpleegbestuurder (matrone) by die Life Dalview Hospitaal.
• Waarom het jy besluit om verpleging jou loopbaan te maak?
Ek het as ’n Graad 11 leerder die geleentheid gehad om ’n week se blootstelling in ’n staatshospitaal te ervaar. Daar het ek besef dat dit die doel van my lewe sal wees. Om te sorg dat al die ongestelde mense in my sorg die beste sorg sal kry.
• Wat behels jou pos by die hospitaal?
Ek is die verpleegbestuurder, dus is ek in bevel van al die verpleegpersoneel. Ek moet verseker dat daar kwaliteit diens aan al ons pasiënte gelewer word.
• Jy beklee ’n bestuurderspos. Verpleeg jy nog?
Ek verpleeg nog, maar in ’n ander kapasiteit. My rol is nie grotendeels meer verpleging by die bed nie. My rol is nou leiding, toesig, kwaliteitversekering, pasiëntsatisfaksie, stafontwikkeling, ensovoorts.
• Watter eienskappe maak van iemand ’n goeie verpleegster?
’n Goeie verpleegster moet ’n passie vir mense en hul welstand hê. Verpleegsters moet akademiese kennis en handvaardigheid kan toepas. Verpleegsters moet dus dít wat vir hul geleer is in die teoretiese wêreld kan inkorporeer in die praktiese, kliniese veld. Dit vat toewyding en uithouvermoë.
• Wat is die vreugdes van verpleging?
Daar is vele. Sommige dae is dit net om ’n “dankie” by ’n pasiënt te hoor, maar ek vind persoonlike genot wanneer ek die persoon is wat ’n baba verlos tydens die geboorteproses. Ek is ook verheug wanneer een van ons kritiek siek pasiënte ’n wending maak na beterskap en ook later ontslaan word uit die hospital.
• Hoe lyk ’n tipiese werksdag vir jou?
My werksdag begin gewoonlik om 6.30vm. Ek neem verslag oor by die nagkwaliteitbestuurder (nag matrone). Volgens haar verslag het mens ’n goeie idee waar die risikos in die hospitaal is. Daarvolgens kan mens dan jou mede verpleegkollegas allokeer om sekere take in die hospitaal aan te spreek. Ek doen ook besoeke by die pasiënte, waar ek dan ’n informele onderhoud met hulle sal voer om te verstaan hoe hul ervaring in die hospitaal verloop. Die algemene dag sluit gewoonlik een of twee noodsaaklike vergaderings in. Die res van die dag behels administratiewe werk. Gewoonlik is my werksdag by 4nm verstreke, maar daar is dae wat ek later moet werk of selfs in die aande.
• Wat is jou toekomsvisie vir die Life Dalview Hospitaal?
Ons is ’n nuwe groep bestuurders by die Life Dalview Hospitaal en ons wil graag die hospitaal een van die bestes in die Oos-Rand maak.
• Die vooruitgang en invloed van die tegnologie plaas groot druk op verpleegsters en dokters. Is dit ’n goeie of slegte ding?
Tegnologie is ’n baie goeie ding wanneer dit kom by medies. Die wyse wat tegnologie aangewend word in die mediese wêreld maak nuwe deure oop vir behandelingsmetodes.
• Wat doen jy wanneer daar tyd is vir ontspan?
Ek is baie lief vir die buitelewe en spandeer graag tyd saam met my man. Ons geniet dit om langs die viswaters te kamp.
• Waar hou jy graag vakansie?
Ek is malverlief op die Wes-Kaap en ons kuier graag in Mosselbaai.
• Is daar ’n land wat jy baie graag sal wil besoek en hoekom?
Ek sal graag die Life Hospitaal in Poland wil gaan besoek, want ek wil ervaar watter verpleegmetodes daar gebruik word sodat ek dit moontlik sal kan toepas in ons fasiliteit.
• Beskryf jouself in vyf woorde?
Vriendelik, toegewyd, gefokus, gedetermineerd, liefdevol.
Lees ook: In die Kollig: Leer vir Corneel Van Dyk ken
Volg ons:



