Editor's choiceLocal newsNews

VIDEO: Droom matriekafskeid word waar

'n Weldoener het verskeie borge genader om dié matrikulant se droom waar te maak.

Ruan Jacobs (19), ’n inwoner van Dalview, het onlangs al te spoggerig vir sy matriekafskeid wat by die Birchwood Hotel in Boksburg gehou is, gelyk.

Dié leerder van Belvedere Special School in Benoni se ouers, Johan en Adri, was weens hul finansiële omstandighede bekommerd dat hul seun nie sy groot dag sou kon geniet nie, maar danksy ’n spesiale organisasie het alles piekfyn uitgewerk.

Carike Pretorius van Under His Covering het ingespring en gesorg dat die jongman ’n onvergeetlike dag kon beleef.

Under His Covering is ’n organisasie wat uitreik na kinders, vrouens en mans met gesondheidsprobleme, asook minderbevoorregtes en dié wat mishandel word.

Dit is ook nie die eerste keer dat die Jacobs-gesin se paaie kruis met dié besondere weldoener nie.

Pretorius het Sunèlda (21), Ruan se ouer suster, in 2016 ook onder haar vlerk geneem en gesorg dat sy ook ’n onvergeetlike matriekafskeid beleef.

The Dress Suit in Boksburg het Ruan se pak geborg. Colours in East Rand Mall het gesorg dat sy hare perfek lyk en S4 Auto motorhandelaars het gesorg dat Ruan en sy metgesel, Beatrix van Zyl (20), in ’n spoggerige Mercedes-Benz gearriveer het.

Ruan en sy metgesel Beatrix voordat hulle gereed gemaak het vir die matriekafskeid.

Ruan en Sunèlda het, soos hul ma, Treacher Collins-sindroom, ’n seldsame genetiese afwyking. Dit is ’n oorerflike kondisie waar van die bene en weefsels in die gesig nie ten volle ontwikkel nie.

Alhoewel hulle gereeld vir al die verkeerde redes aangestaar word, kry dit dié drie glad nie onder nie.

“My ma het ons van kleins af geleer dat ons nie moet omgee wat ander mense dink nie. Sy het ons geleer om sterk te bly en net ons self te wees,” het Ruan gesê.

Die 19-jarige was opreg dankbaar vir elke persoon wat deel was van sy groot dag.

“Ek was baie op my senuwees, maar terselfdertyd was ek opgewonde en dankbaar. ’n Mens beleef net een keer in jou lewe ’n matriekafskeid en ek het, danksy die mense wat my gehelp het, net die beste daarvan gemaak.”

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button