Editor's choiceLocal newsNews

In die kollig: Leer meer oor Crystal Mylie

Crystal Mylie is die week in die kollig.

’n Leerder van Laerskool Die Arend, Crystal Mylie (13), is bekend as die vreeslose meisie wat vir die Brakpan Rugbyklub rugby speel. Sy woon saam met haar ouers, Andrew en Surita, asook ’n jonger broer, Logan (7), in Brenthurst.

Lees ook: Crystal finds her mentor

• Hoe lank speel jy al rugby en hoe het dit gekom dat jy juis die sportsoort gekies het?

Vanjaar is dit die tweede jaar wat ek rugby speel. Ek het altyd saam met my oorlede oupa en oom gespeel en dit is waar my passie vir rugby ontstaan het. Dit was nie lank nie toe het ek uitgevind dat die Brakpan Rugbyklub my sal aanvaar om vir hulle te gaan speel.

Dis nie ’n alledaagse ding dat meisies rugby speel nie, kry jy soms negatiewe kommentaar en hoe hanteer jy dit?

Ja ek doen, sommige mense sê dat ek in die verkeerde rigting gaan beweeg en van meisies gaan begin hou, maar ek steur my nie aan hul negatiewe kommentaar nie.

Crystal is in aksie met die rugbybal onder haar arm.

Hoe het jy gevoel toe daar vir jou gesê is jy mag nie meer saam met die seuns rugby speel nie?

Ek het baie hartseer gevoel. Ek het ook gevoel ek het my oupa in die steek gelaat, want hy het gesê ek moet rugby speel en my drome volg en toe kon ek skielik nie meer nie.

Jy is nie iemand wat jou drome sommer net opgee nie. Wat of wie het jou gemotiveer om jou eie meisiespan te begin?

Dit was alles my oupa, ons het ’n baie sterk band gehad en ek was baie lief vir hom. Ek het gevoel ek gaan nie net so opgee nie, hy sou nie wou hê ek moet nie.

Lees ook: Crystal proves girl power on the rugby field

Jy gaan amper hoërskool toe, gaan jy aanhou rugby speel?

Ja ek gaan, ek gaan die span wat ek nou het motiveer om saam my in die hoërskool te speel. Die meisies het dieselfde passie as ek en ek glo ons sal ’n groot sukses hiervan kan maak.

Het jy al ooit ’n seun geduik dat hy sommer bly lê?

Ja, ek het in my eerste wedstryd reeds ’n seuns geduik dat die stof so spat. Hy moes selfs van die veld afgaan.

Is die seuns teen wie julle speel versigtig of is hulle maar rof?

As hulle sag op my gaan, gaan ek harder op hulle sodat hulle ook hard op my gaan en kan sien dat ek nie bang is nie. Ek was ook al gemerk deur seuns van ander spanne wat gesê het hulle moet vir my gaan, maar ek is bly, want dis altyd die goeie spelers wat gemerk word.

Lees ook: Nothing can stand in her way of growing girls’ rugby

Doen jy enige ander sport ook?

Ek het altyd landloop en gewigstoot gedoen, maar ek het dit gelos toe ek met die rugby begin het.

As jy raad kon gee vir ander mense wat ook hul drome wil volg, wat sal dit wees?

Jy moet nooit opgee in wat jy glo nie en as jy val, staan net weer op. Dis ook belangrik om God se hand vas te hou.

Wat wil jy eendag word?

Ek wil graag ’n veearts word wat met wildediere werk. Ek is baie lief vir diere en wil graag ’n verskil maak.

As jy een wens het wat bewaarheid sou kon word, wat sou dit wees?

Ek sal graag sterker as ’n span wil groei en meer meisies motiveer en bereik om ook rugby te begin speel.

Beskryf jouself in vyf woorde.

Vriendelik, avontuurlustig, positief, spraaksaam en doelgerig.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit: Springs Advertiser, African Reporter , Boksburg Advertiser, Benoni City Times and Kathorus Mail

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button