Via-Vinkies kyk terug oor agt geseënde jare
Daar was groot opgewondenheid toe die Via-Vinkies onlangs hulle agtste Kersafsluiting en gradeplegtigheid gehou het.
Die droom van Rina Aucamp, stigter van die Via-Vinkies, om gestalte te gee aan die opheffing van ma’s en om kleuters kosteloos skoolgereed te kry, het die afgelope agt jaar bly voortleef.
“Dit was vir ons ‘n besondere voorreg en mylpaal om vir die agste jaar ‘n gradeplegtigheid vir ons kinders te kon hou,” het Esther Rothman, koördineerder van die Via-Vinkies, gesê.

Gedurende die afgelope agt jaar is 40 kleuters, wat nooit andersins die geleentheid van formele kleuterskool onderrig sou ontvang nie, skoolgereed gemaak deur onbaatsugtige, liefdevolle, bekwame en afgetrede vrywilligers.
Die ma’s van die kleuters ontvang ook, gelyklopend met die kleuteronderrig, geestelike en emosionele ondersteuning.
“Ons kleuter getalle het egter begin afneem, as gevolg van skole wat die graad R-fase ingefaseer het. Dit is ook bekostigbaar vir die meeste gesinne en die daaglikse stimulasie is ook meer gewens,” het Rothman verduidelik.
“Ons het egter ondervind dat daar ‘n groter behoefte is aan die ondersteuning wat die moeders ontvang en daarom gaan ons van volgende jaar af op ‘n maandelikse basis net fokus op ouerleiding, kreatiwiteit, geestelike opheffing, die maak van ekonomiese geregte asook persoonlike versorging en emosionele bystand.
“Ses van ons 12 gesinne is net van ‘n Sassa-pensioen afhanklik en die res se inkomste maak dat die finansiële nood met tye groot is, veral met betrekking tot kruideniersware en goeie mediese sorg.
Lees ook: ViA-Vinkies neem steeds kleintjies onder die vlerk
“Ons is nie ‘n liefdadigheidsorganisasie nie en kan ongelukkig nie in almal se behoeftes voorsien nie.
“Juis daarom is ons baie dankbaar, veral wanneer ons voedsel ontvang.
“‘n Paar mense se donasies het in die verlede ook gehelp om ons skoolgaande kinders volledig toe te rus met nuwe skoolklere, tasse en skool pakkette.
“In die gemeenskap verwelkom ons altyd die projek wat Honkie Ponkie Kleuterskool met Valentynsdag loots om ons gesinne met nie-bederfbare voedsel te voorsien,” het Rothman gesê.
“Tydens die NG Kerk Dalpark se winter kermis is ons gesinne ook ruimskoots van kaartjies voorsien vir voedselaankope.
“Daar is ook ‘n bejaarde egpaar van die Gerefomeerde kerk in Dalpark, Eric (87) en Rina (81) Louw, wat getrou soos klokslag maandeliks vir al ons gesinne van ‘n pakkie rys en soya voorsien,” het Rothman gesê.
Sy het bygevoeg dat daar gedurende die Kersseisoen ‘n groot behoefte aan kruideniersware is en dat enige nie-bederfbare voedsel verwelkom sal word.
Volg ons:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



