In die kollig: Laerskool Die Arend se Arie
Leer die mense in ons dorp ken.
Arie, Laerskool Die Arend se vriendelike gelukbringer (mascot) is amper ’n jaar oud en het ’n bekende en geliefde karakter by die skool geword.
• Hou oud is jy?
Ek is nog baie jonk. In “mensjare” is ek nog nie eers ’n jaar oud nie. Maar in my wêreld is ek nou 13.
• Waar bly jy?
Ek het my eie spesiale nessie by Die Arend wat vir my gemaak is. Dit is ’n groot geheim en net die hoof, Gideon Lange, weet waar dit is.
• Wat is jy eintlik?
Ek is ’n Arend in murg en been. Ek was vir lank ’n baie groot droom vir almal by Laerskool Die Arend – ’n droom wat waar geword het aan die begin van hierdie jaar. Ek is dus ’n baie geliefde Arend.
• Wat is Arie se pligte?
Ek kuier altyd tussen die mense by sportgeleenthede en van tyd tot tyd deel ek geskenkies uit aan ons klein maatjies by die kleuterskole om hulle te nooi om by Die Arend te kom kuier. Ek maak my verskyning by enige plek waar kinders lag en gelukkig is.
• Vertel van die slegste dag wat jy al ooit beleef het?
Ek is ’n baie gelukkige Arend. Ek word mooi opgepas en beskerm deur almal by Laerskool Die Arend, so ek het gelukkig nog nie so dag beleef nie.
• Wat is die snaaksste ding wat jou al oorgekom het?
Mense hou so baie van my dat hulle my gereeld probeer omkoop met lekkertjies om saam hulle te gaan.
• Waarvan hou Arie glad nie?
Ek hou nie daarvan as mense en ander diere seergemaak word nie. Kinders moet altyd gelukkig wees, soos al ons Arie-leerders is.
• Wat is Arie se gunsteling tydverdryf?
Om te lees in die mediasentrum as al die maats klaar huis toe is in die middae. Ek hou ook daarvan om in die graad een maats se klassies te gaan loer na al hulle harde werk in hulle boeke. Ons het regtig baie slim kinders in ons skool.
• Wat is jou boodskap aan die jeug van vandag?
Dit is nie nodig om te bekommer oor dinge waaroor mens nie beheer het nie – Jesus sorg self vir elke dag. Elkeen van julle het sy plekkie in die son, en die son is groot genoeg om lig te maak vir ons almal. Wees net jou eie unieke self in ’n wêreld vol duplikate.
• Dink jy dat die jeug te veel tyd op hul selfone spandeer?
Ek dink so. Daar is soveel dinge om te geniet waarop mens uitmis as mens net heeltyd op mens se selfoon is. Lees eerder ’n boek, gaan stap ’n end, kuier saam jou ouma en oupa.
• Wat eet jy graag?
Ek is mal oor die kos wat juffrou Marie maak. En meneer Pretorius se mieliepap en uie-en tamatiesous is die heel beste saam braaivleis.
• Waarvan sal jy glad nie jou mond sit nie?
Ek is ’n tiener-Arend, so ek eet alles. Ek hou net nie baie van spinasie nie.
• Jy woon talle geleenthede by. Hoe bly jy fiks?
Ek oefen saam met juffrou Yolandi en juffrou Linell in die middae. Ek oefen ook saam die rugbyspelers van ons skool. Dit is genoeg oefening en hou my baie fiks.
• Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie.
Ek speel met die sporttoerusting in die stoorkamer oor naweke wanneer niemand by die skool is nie.
Lees ook: In die kollig: Leer Laerskool Dalview se nuwe hoofdogter ken
Volg ons:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



