Kersvader sorg vanjaar weer vir gelukkige kinderharte
Vanjaar is geen uitsondering nie. Norman Hunter (47) is reeds vanaf die middel van November elke aand op sy pos.
Kersfees in Brakpan het die afgelope paar jaar sinoniem geraak met ’n versierde bakkie wat saans deur die woonbuurte van die dorp met vrolike musiek en Kersvader wat lekkergoed aan opgewonde kinders uitdeel, ry.
“Ons het hierdie jaar so bietjie vroeër begin anders is daar nie genoeg tyd om voor Kersfees deur die hele dorp te ry nie,” het Norman vertel.
Hy het die tradisie oorgeneem toe die stigter daarvan, Thys Janse van Vuuren, vier jaar gelede oorlede is.
Norman vertel dat dit wel tydrowend is maar dat die opgewondenheid van die kinders dit elke aand die moeite werd maak.
“Ons speel musiek en op die bakkie is daar ’n Kersvader wat lekkergoed uitdeel. Dit is ook vir baie kinders van die dorp die enigste geleentheid wat hulle sal kry om vir Kersvader te sien. Dit is genoeg motivering vir my,” het Norman vertel.
Lees ook: Kersfeesvader kuier saam met die Akker Rakkers
Die lekkergoed wat uitgedeel word asook die brandstof vir die bakkie kom gedeeltelik uit Norman se sak, maar hy is ook dankbaar vir donasies en skenkings wat hy van goedhartige inwoners en besigheidsmense ontvang.
“Ons ry saans so drie ure rond, afhangende van die weer.
“Dit is verbasend hoeveel kinders uit hul huise kom, net om te kom groet,” het hy gesê.
Hy vertel dat die daad wat hy verrig oor die algemeen goed ontvang word deur die inwoners van die dorp alhoewel daar tog hier en daar iemand is wat negatief is.
“Ek het al te doen gehad met mense wat vir my sê dat hulle nie aan Kersvader en Kersfees glo nie.
“Elke mens het natuurlik die reg om te glo wat hy wil, so ek beweeg dan maar net aan,” het Norman gesê.
“Op die einde van die dag is dit baie bevredigend om gelukkige kinders te sien. Solank ek dit kan beleef sal ek voortgaan om met my bakkie en musiek deur die strate van die dorp te ry,” het Norman gesê.
Lees ook: VIDEO: Flooze kuier by Trippe Trappe Trone
Volg ons:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



