Behoeftige wat in ongeluk beseer is, is nou ook dakloos
Die voorval het in Van der Waltweg plaasgevind toe die polisie ‘n gesteelde voertuig agterna gesit het.
Dit gaan beter met die man wat twee weke gelede beseer is toe hy tydens ‘n jaagtog raakgery is, maar daar blyk nie lig aan die einde van die tonnel vir hom te wees nie.
Die bestuurder van die gesteelde kar het by die verkeerslig by VC Spar beheer verloor en die man, wat in die proses was om die pad oor te steek, raakgery.

Leon Durant (56) se enkel is gebreek en is na die Verre Oos Randse Hospitaal vervoer. Hy het Maandag ‘n operasie aan sy enkel ondergaan en is Woensdag ontslaan.
Durant, wat werkloos is en dikwels by die verkeerslig gebedel het, het tydelike verblyf in ‘n motorhuis gehad maar met sy terugkeer na die tyd in die hospitaal was die verblyf nie meer beskikbaar nie.
Hy het geen heenkome nie en sal waarskynlik genoodsaak wees om weer op straat te slaap soos hy voorheen gedoen het.
Intussen verduur hy erge pyn en moet hy met krukke oor die weg kom.
Lees: Opvolg: Vyf gearresteer toe rowers in Dalview gestuit word
“Ek bang om op straat te slaap want ek weet my krukke sal gesteel word en ek kan nie daarsonder oor die weg kom nie,” het hy gesê.
Durant het bygevoeg dat hy ook meer weerloos voel as gevolg van sy besering.
Hy onthou die dag van die ongeluk baie goed.
“Ek was besig om die pad oor te steek toe ek die kar met ‘n spoed sien aankom. Dit het oor die middelman gery en ek het aanvanklik gedink die bestuurder is dronk.
“Toe ek sien dat ek getref gaan word het ek uit die pad probeer kom maar ek was net te stadig,” het Durant gesê.
Hy het die oggend, voor die ongeluk, nog nutswerk gedoen.
“Ek is nie lui om te werk nie en wanneer die geleentheid daar is doen ek enige werk om geld te verdien.
“Stilsit is nie vir my nie maar dit is nou vir my moeilik om oor die weg te kom met die krukke en my seer voet.
“Ek kan vir niemand sê hoeveel pyn ek gehad het nie en dit is nog steeds baie seer. Ek het ook nie pyn medikasie nie.”
“My grootse kommer is egter om ‘n dak oor my kop te kry. My voet sal wel genees en ek sal weer los werkies kan doen.”
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



