Editor's noteLocal newsNews

In die Kollig: Nadia Scrooby is in die kollig

Leer Brakpan se mense ken.

Nadia Scrooby (35) is ’n inwoner wat nie veel bekendstelling nodig het nie. Die onderwyser, lewensafrigter en geleentheidspreker is getroud met Raymond (36). Die egpaar, wat in Sunair Park woon, het twee kinders, Jessica (5) en Kayleigh (3).

Jy is bekend in onderwyskringe. Waar het jy skoolgehou en hou jy nogsteeds skool?

Ek het begin skool hou in Kemptonpark by Spartan High. Daarna het ek in Brakpan skool gehou by Brenthurst Primary School, Curro Castle Helderwyk en Hoërskool Stoffberg. Ek gee tans deeltyds skool by Sunward Christian Academy en ek gee drama as ’n addisionele vak by Hoërskool Stoffberg, waar leerders van Hoërskool Oosterlig en Hoërskool Hans Moore ook by ons aansluit. Ek bied ook buitemuurse dramaklasse aan.

Skoolhou is nie al waarmee jy jouself deesdae besig hou nie. Jy is ook ’n lewensafrigter (life coach). Waarom het jy dié perd opgesaal?

’n Lewensafriger, in Engels beter bekend as ’n “life coach”, kan ook beskryf word as ’n lewensgids. Ek het ’n natuurlike talent en daarmee saam ’n behoefte om mense te lei van waar hulle is, na waar hulle wil wees. In my praktyk reis ons van wie jy is tot wie jy regtig wil wees, stroop al die etikette en maak klaar met voorgee. Dis ongelooflik bevrydend om jouself te wees en dít is vir my onbeskryflik bevredigend. Ek is gaande oor menslike gedrag en met elke kliënt leer ek wat boeke my nie kan leer nie. Konsultasies is uiters konfidensiëel en dis baie gerusstellend wanneer ek ’n kliënt se vertroueling word op sy/haar reis van persoonlike groei.

Jy is ook ’n gereelde spreker. Was jy nog altyd gemaklik daarmee om voor mense te praat?

Dis vir my die heel lekkerste plek – voor mense. Ek het my lewe lank gewag om gereeld voor mense te kan praat, anders as klasgee, maar ek moes self eers sewe keer val en agt keer opstaan om my boodskap outentiek te kan lewer. Ek is gaande daaroor.

Waarmee hou jy jouself nog besig?

My kinders hou my baie besig. Ek verslind boeke oor die menslike psige en ouerskap. Ek skryf ouerskap artikels vir die Mama Magic Baby Expo se Milistones Magazine. Na vele jare dans ek weer by Visions Dance Academy en ons repeteer nou aan ons groot vertoning. Ek sluit eersdaags by die massakoor Capital Singers aan en ek kan nie wag om in die Sun Arena op te tree nie.

Watter onderwerp sou jy graag met ’n gehoor van ‘n 1 000 mense wou deel en waarom?

Genesing – liggaam, siel en gees – begin by jou denke. Ek het hierdie oorwinning self behaal, maar ek moes stil raak, my eie denke ondersoek en my liggaam ’n werklike kans gee om te genees. Eers toe my denke genees, kon my liggaam, siel en gees van ernstige siekte genees. God is getrou in dit wat ek hom gevra het en ek wil dit so graag met mense deel, soveel mense soek na antwoorde. Die behoefte hieraan is groot en ek het self elke tree gestap van diagnose tot genesing.

Watter onderwerp sal jy liewer vermy wanneer dit by ’n openbare optrede kom en waarom?

Ek sien kans vir baie. Ek kommunikeer selfs byvoorbeeld ’n skoolhoof se uitdagings/behoeftes direk aan ouers tydens ’n ouerverrykingskursus, kaalvuis waarheid. Solank ek die waarheid kan praat, sal ek enige behoefte aanspreek. Ek het ’n groot liefde vir gesinne en solank ’n onderwerp opbouende lering is, sal ek baie sê om gesinne te versterk.

Waar kry jy energie vandaan vir jou besige leefstyl?

Ek rus wanneer ek moet rus. Ek luister na my liggaam, ek eet so min as moontlik geprosesseerde kos en drink aanvullings volgens my behoeftes. My man doen dieselfde en dit werk wonders om ondersteuning te hê. Ek sien gereeld my fisioloog in Pretoria en ek het selfs DNS toetse laat doen om presies te weet wat my liggaam se behoeftes is.

Wat is jou siening oor sosiale media?

Ek sukkel om op datum te bly met sosiale media – ek verdwyn met tye spoorloos van die aanlyn gemeenskap. Ek wens ek het daarvan gehou, maar ek is van nature nie mal daaroor nie, daarom is ek nie so gemotiveerd nie, maar dit bly belangrik vir my besigheid. Ek sal moet opskerp.

Die dorp word vanjaar 100 jaar oud. Wat is vir jou spesiaal omtrent die dorp?

Ek het die mooiste kinderjare herinneringe hier en dit speel gereeld nog voor my af. Soos ek in die strate ry, onthou ek hoe ons in die strate gespeel het. Ek het my beste maatjies en my man in die strate van Brakpan gevind. Die verskillende generasies wat hier woon is vir my baie besonders. Lank gelede was ek ’n skooldogtertjie op die verhoog, nou beoordeel ek leerders of rig ek leerders af op dieselfde verhoog. Oral waar ek gaan is die kosbaarste herinneringe – van die stadsaal tot die speelparkie.

Watter tipe mense vermy jy?

Ek is soms so in gedagte, dit kan lyk of ek mense miskyk, maar ek vermy nie mense nie. Dit is ook nie altyd ’n goeie ding nie, ek leer nog om soms nodige afstand te hou.

Watter tipe mense sal jy in jou kring trek?

Mense wat glo in persoonlike groei en mense wat graag gereeld iets nuuts probeer.

Waar hou jy graag vakansie?

Ek is gaande oor Natal – van die Midlands tot by die Suidkus en alles tussenin.

Beskryf jouself in vyf woorde.

Nuuskierig, veelsydig, intuïtief, kreatief, inisiërend.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button