Ongeluk verander gesin se lewe onherroeplik
Die ongeluk het op 5 Mei reg voor die kinders se huis in Thomasstraat, Brenthurst, plaasgevind.
Drie van die vier kinders wat vroeër vanjaar ernstige beserings opgedoen het toe hulle deur ’n motorfietsryer raakgery is, het goed herstel, maar vir een van hulle lê daar nog ’n lang pad voor.
Braam (15), Clara (8) en Decklin (5) du Plooy is saam met nog ’n kind, Jurgens Crous (10), beseer.

Die drie jonger kinders het goed herstel van hulle beserings, maar Braam was nie so gelukkig nie.
Hy het vyf weke in die hospitaal deurgebring en sal in die nabye toekoms ’n operasie aan sy rug moet ondergaan.
Op die dag van die ongeluk was die kinders se ma, Christene Smit, doenig in die huis. (Hulle het intussen verhuis.)
Haar dogter Thelma (9) het haar gaan roep en sy onthou nog duidelik hoe sy haar ernstig beseerde kinders op die sypaadjie sien lê het.
Christene het ’n dag na die ongeluk aan die Herald gesê dat sy nie geweet het na watter kind om eerste te gaan nie.
Die kinders het op ’n fiets in die veld oorkant hul huis gery.
Al vier was saam op die fiets en toe hulle die pad na hul huis wou oorsteek is hulle deur die motorfietsryer getref.
Braam, Decklin en Clara is in ’n hospitaal in Springs opgeneem terwyl Jurgens na die Verre-Oos Rand Hospitaal vervoer is.

Braam het ’n gebreekte regterbeen en rugbeserings opgedoen en sy dunderm het volgens Christene ook gebars.
Clara se sleutelbeen is gebreek en Decklin se regterbeen is gebreek. Hy het ook ’n wond aan sy rug opgedoen.
Die jonger kinders is die Maandag na die ongeluk ontslaan, maar Braam moes, weens die erns van sy beserings, veel langer in die hospitaal bly.
Lees: Vier kinders beseer toe motorfietsryer hul tref
Jurgens, wat ’n besering aan sy kakebeen opgedoen het, het ook herstel.
Christene het Dinsdag aan die Herald gesê dat haar gesin se lewe onherroeplik verander het na die ongeluk.
“Alhoewel ons oor ’n mediese fonds beskik, was daar enorme bedrae wat ons self moes betaal en steeds betaal.
“Braam kan op hierdie stadium nie eens vir die operasie aan sy rug gaan nie, want daar is doodeenvoudig net nie fondse daarvoor nie.
“Ons moes na ’n kleiner en goedkoper plek verhuis en ons het al van ons meubels en ander besittings verkoop om kop bo water te hou,” het Christene gesê.
Die kinders ontvang ook steeds sielkundige behandeling en Braam moet gereeld ’n fisioterapeut sien.

“Ons moet kontant vir al die behandelings betaal.”
Braam kan weens sy huidige toestand ook nie skool bywoon nie en hy sal waarskynlik volgende jaar graad agt moet herhaal.
Hy vertel dat hy sy maats mis, maar die feit dat hy nooit weer rugby sal kan speel nie is vir hom die ergste.
“Ek het rugby baie geniet en het vir my skool se o-15-span gespeel. Ek is ook gekies vir die Valke-span, maar ek sal nooit weer kan speel nie,” het Braam vertel.
Hy onthou ook die vyf weke in die hospitaal baie goed.
“In die begin het ek baie pyn gehad en alhoewel ek medikasie ontvang het, was dit soms baie seer en ongemaklik.
“Ek moes net heeldag daar lê en die vyf weke het baie lank gevoel,” het hy gesê.
Hy sê dat hy positief probeer bly en dat hy baie dankbaar is teenoor sy vriende wat vir hom kom kuier en gereeld kontak met hom maak.
Hy het ook groot lof vir past Gert Vermaak en past Torrie Elliot van die Auxano Advent Gemeente.
“Hierdie mense het toe dit baie sleg met my gegaan het vir my kom bid en hulle stap nog steeds die pad saam met my,” het Braam gesê.
’n Saak van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:



