Ouma Doep is 101 jaar jonk
Daar is ten minste een inwoner van die dorp wat kan sê dat sy ouer is as Brakpan, wat vanjaar sy 100ste bestaansjaar vier.
Sue du Plessis, of ouma Doep soos wat baie mense haar ken, het Vrydag 101 jaar oud geword.
Dit klink byna verkeerd om te meld dat sy 101 jaar oud geword het, aangesien dié op en wakker inwoner van Tweedy Park eerder 101 jaar jonk is.
Ouma Doep was Vrydagoggend dou voor dag al op, gereed om almal wat haar geluk gaan wens het, te woord te staan.
“Ek moes maar vroeg op vanoggend, maar ek hou nie eintlik daarvan om so vroeg op te staan nie,” het sy Vrydag aan die Herald vertel.
“Wanneer ’n mens 101 jaar oud is, vat alles so bietjie langer en ek kan nie meer so gou uit die bed spring en klaar maak nie,” het sy laggend vertel.
Sy is op 20 September 1918 in Frankfort in die Vrystaat op ’n plaas gebore en het in Klerksdorp groot geword, waar sy by die Sacred Heart Convent School skool gegaan het.
Lees: VIDEO: Ouma Doep word ’n eeu oud
Sy onthou die verloop van haar lewe verbasend goed en skroom nie om te sê watter belangrike rol haar man Ben, met wie sy 63 jaar getroud was, in haar lewe gespeel het nie.
“Ek glo dat ek vandag hier kan sit omdat ek ’n baie goeie man gehad het.
“Hy het van dag een af vir my gesorg en seker gemaak dat ons ’n goeie lewe gehad het.
“Ons was lief vir mekaar en het altyd respek vir mekaar gehad,” het sy vertel.
Sy glo ook dat ’n mens gesond moet eet en dat rook en drank beslis taboe is.
Haar ander geheim is om nie te veel pille te drink nie.
“Genade, ek ken mense wat vir elke skeet en pyn ’n pil sluk. Dit is nie goed vir jou liggaam nie,” het sy vertel.
Sue is al sedert 1980 ’n inwoner van Tweedy Park, waar sy in ’n woonstel op die grondverdieping woon.
Sy luister graag na musiek op die radio, aangesien haar sig nie meer so goed is nie, en dit is altyd vir haar ’n hoogtepunt wanneer haar kinders vir haar gaan kuier.
“Ek glo dat ’n mens jouself met goeie mense moet omring. Dit is goed vir jou siel.”
Gevra of sy weet dat sy ouer as Brakpan is, lag sy net en antwoord, “Ja, ek weet die dorp is oud, maar ek is ouer.”
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:



