Editor's noteLocal newsNews

Haweloses neem by die dag toe

Die winter is op pad en mense kan nie so op straat in die koue slaap nie.

Die aantal mense wat snags oop en bloot op die sypaadjies van die dorp slaap neem by die dag toe.

Dit is glad nie meer ’n ongewone gesig om mense onder vuil komberse om elke hoek en draai en selfs voor besighede se ingange te sien slaap nie.

Van hulle doen darem die moeite om vroegoggend op te pak en elders heen te gaan maar ander voel heel gemaklik om tot laat in die dag op die sypaadjies te vertoef.

’n Meningspeiling oor dié situasie is Maandag op die Herald se Facebookblad geplaas en meer as 160 mense het kommentaar gelewer.

Die groter meerderheid van persone wat hul mening gelig het was simpatiek teenoor die haweloses.

Die sypaadjie op die hoek van Prince George- en Hamiltonlaan word in die nag ook ’n slaapplek vir vele haweloses. Gedurende die dag word daar gereeld herwinning op die plek gedoen.

Tog is daar ’n algemene gevoel dat dwelmmisbruik ’n groot rol speel.

Baie mense is ook van mening dat daar ’n veilige plek (shelter) vir die haweloses opgerig moet word.

Slegs ’n handjie vol mense het hul kommer uitgespreek oor die feit dat die mense moontlik kan bydra tot misdaad in die dorp.

’n Inwoner wat die Herald gekontak het, en verkies het om anoniem te bly, het gesê dat sy al by verskillende geleenthede gesien het hoe die mense hulself met dwelmmiddels inspuit.

“Ek het somtyds my kinders by my in die voertuig, maar gelukkig het hulle dit nog nie gesien nie.

“Alhoewel ek nie goedkeur wat die mense doen nie moet ’n mens ook na die groter prentjie kyk.

“Hulle gebruik dalk dwelms as ’n manier om van hul omstandighede te ontsnap. Hulp moet aan die mense verleen word.

“Wat my ook bekommer is die feit dat die winter op pad is. Mense kan nie so op straat in die koue slaap nie. Hulle gaan goed brand om warm te bly en die gemors gaan nog erger wees,” het die vrou gesê.

Die Demokratiese Alliansie (DA) se raadslid vir wyk 97, Brandon Pretorius, het gesê dat dit inderdaad hartseer is, maar dat dit die werklikheid is.

“Ek glo dat as ’n gemeenskap moet ons nie van ons verantwoordelikheid teenoor die hawelose mense, wat inderdaad ook ons medemens is, vergeet nie.

“Dit is ’n feit dat die omstandighede waarin baie van die hawelose mense hulle in bevind nie vir dieselfde redes is nie.

“Armoede ken nie kleur nie en die hawelose mense in Brakpan is beslis divers.

“In Suid-Afrika is daar tans ongeveer 16 miljoen mense wat werkloos is.

“Twee miljoen van hierdie mense het tou opgegooi en sien nie meer kans om eers te probeer werk te soek nie,” het Pretorius gesê.

Hy het bygevoeg dat dit uit die aard van die saak ’n direkte impak op gemeenskappe regoor die land, insluitend Brakpan, het.

Die hoek van Currystraat en Voortrekkerweg is ’n gewilde plek waar daar snags vele mense slaap.

“Dit is soms moeilik om te help. In die meeste gevalle weier die mense hulp, wat verder strek as ’n bord kos of ’n paar rand.

“Die eenvoudige rede daarvoor is dat die grootste meerderheid van mense nie aan reëls gebonde wil raak nie.

“Daar is heelwat organisasies wat saam met ons munisipaliteit werk om mense, wat hulle in verskeie omstandighede bevind, te help om weer op hulle voete te kom.

“Die werklikheid is dat mense in meeste van die gevalle hulp weier omdat hierdie organisasies reëls en voorwaardes het waarvolgens hulle werk.

“Ek glo dat die munisipaliteit meer kan doen, maar die probleem strek beslis verder as munisipale vlak. Dit moet ook op ’n provinsiale en nasionale vlak aangespreek word.

“In die Brakpan gemeenskap het ons talle weldoeners en is daar amper elke dag mense wat help met die voorsiening van kos.

“Dit is egter nie ’n oplossing vir die probleem nie, alhoewel dit tog toon dat daar steeds menslikheid teenoor ons medemens is en ek bedank die weldoeners vir hulle bydraes. Tog is daar net soveel wat ’n gemeenskap kan doen.

“Die munisipaliteit het wel tans ’n program wat in plek is en gefokus is daarop om hulp te verleen, waar dit verwelkom word.

“Die wykskomitee het ook in reeds in 2017 op wyk 97 geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) versoek dat daar voorsiening gemaak moet word vir die hawelose mense van Brakpan,” het Pretorius gesê.

Dit is Dinsdag onder die Herald se aandag gebring dat lede van die Brakpan Radiogroep, die EMPD en EA24 van die plekke, waar die hawelose mense slaap, besoek het, waarna aksie geneem is.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:hyperlink

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button