Editor's choiceNewsSchools

Die Anker se nuwe hoofleiers sien uit na 2021

Die Herald het met die hoofseun, Tiaan Kriel, en hoofdogter, Nicole Claassen, gesels oor die jaar wat voorlê.

Hoërskool Die Anker het onlangs sy hoofleiers vir 2021 aangewys.

Tiaan Kriel.

Wat is die eerste gedagte wat deur jou kop gegaan het toe jou naam verlede Vrydag uitgelees is?

T: Dit het gevoel asof my bors gaan bars van trots, maar dan was daar ook die gedagte aan al die harde werk wat ek ingesit het om daar uit te kom. Dit was eintlik ’n baie onrealistiese gevoel.

N: Ek kan dit vaagweg onthou. Ek was eers baie verbaas en toe later oorweldig met opgewondenheid vir wat voorlê.

Is dit ’n doelwit wat jy vir jouself gestel het?

T: Ja, dit was ’n doelwit waaraan ek hard gewerk het.

N: Ja, dit was beslis ’n doelwit wat ek vir myself gestel het. Vanjaar was ’n moeilike jaar vir almal.

Hoe het jy dit reggekry om altyd positief te bly?

T: Met geloof en ek is van klein tyd af geleer om eerder die positiewe in die lewe te raak te sien.

N: My daaglikse tyd saam met die Here is vir my baie belangrik. Ek het hierdie tyd aan die voete van Jesus gebruik om in alle aspekte van my lewe te groei. My gemoedstoestand word nie bepaal deur die wêreld nie, maar deur God wat my vrede en vreugde gee.

Vanjaar se matrieks het op baie uitgemis. Wat is jou boodskap aan hulle?

T: Daar is altyd ’n rede vir alles. Staan altyd vas in jou geloof en moet nie spyt wees oor enige iets nie. Daar is ’n les om te leer in alles wat gebeur, hetsy dit positief of negatief is.

N: Daar is baie dinge waaroor mens geen beheer het nie. Dit is belangrik om positief te bly en jou vreugde in die Here te vind en te vertrou dat jou toekoms in Sy hande is.

Lees: Hoofdogters spreek hul misnoë uit oor 2020

Volgende jaar wag daar ’n jaar vol verantwoordelikhede op jou. Waarna sien jy die meeste uit?

T: Om myself te kan bewys as hoofleier en om seker te maak dat ek voldoen aan almal se verwagtinge. Natuurlik ook om my skoolloopbaan op ’n hoë noot klaar te maak en om hopelik weer te kan rugby te speel.

N: Definitief die inlywing van die graad agt leerders en om saam as ’n span te werk en ons skool in eenheid te lei. Ons het beslis groot skoene om te vul.

Watter opdragte/uitdagings gaan jou ’n kopseer gee?

T: Eerlikwaar, die toesprake.

N: Dit gaan definitief ’n uitdaging wees om uit my gemaksone te kom, maar so sal ek as persoon groei. Ek glo vas “you can’t live out the incredible purpose that God has for your life if you fear people”.

Hoe sal jy graag onthou wil word wanneer jy aan die einde van 2021 wegstap?

T: Ek sal graag as ’n regverdige en opregte hoofleier onthou wil word.

N: Hulle kan my naam vergeet, maar ek wil onthou word vir hoe ek dié om my hanteer het en hoe ek optree in ongemaklike omstandighede. Ek wil ’n inspirasie wees vir die langs my en die wat na my kom om die skool te lei in Jesus se liefde.

Wat maak Hoërskool Die Anker spesiaal?

T: Die groot verskeidenheid vakkeuses is beslis ’n pluspunt. Die skool het ’n fantastiese span toegewyde onderwysers en hoof. Die gees van ons skool is baie uniek.

N: Ons het ’n groot verskeidenheid vakke en verskeie sportsoorte. Daar is geleenthede vir elkeen om hul passie uit te leef.

Wie is jou rolmodel?

T: My pa. Hy het my geleer om altyd my beste te gee in alles wat ek doen en my geleer om sterk te staan in my geloof. Hy het vir my ook ’n baie belangrike lewensles geleer wat ek altyd sal onthou: wanneer mens iets begin maak jy dit klaar.

N: Sadie Robertson en Simoné Pretorius. Albei vir die goeie voorbeeld wat hulle stel. Hulle leierskap en liefde vir die Here.

Beskryf jouself in vyf woorde

T: Hardwerkend, opreg, eerlik, lojaal en respekvol.

N: Ambisieus, hardwerkend, integriteit, onbaatsugtig, opreg.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button