In die Kollig: Ewald Benade
Leer die nuwe hoofleier van die Laerskool Brakpan-Oos ken.
Ewald Benade (13) is vanjaar die hoofseun van Laerskool Brakpan-Oos. Hy woon saam met sy ouers, Francois en Michelle, asook sy jong broer, Wian (9), in Minnebron.
• Jy is vanjaar die hoofseun van Laerskool Brakpan-Oos. Met die pandemie kan die skooljaar effe anders daarna uitsien. Hoe wil jy graag die jaar aanpak en onthou?
Dis vir my ’n eer om hoofseun van my skool te wees. Al is die jaar effens anders, gaan ek steeds net my beste gee vir die skool en sy leerders. As hoofseun beplan ek om ’n goeie voorbeeld te stel vir elke Oosie. My leuse in die lewe is: “As jy iets doen, doen dit tot die beste van jou vermoë”. Saam met my mede Oosies sal ons 2021 ’n jaar maak om te onthou.
• Wat maak van mens ’n goeie leier?
Vir my is respek die belangrikste eienskap wat ’n leier moet hê. Respek vir jouself en ook respek vir die mense rondom jou. Ek voel ook dat ’n leier in elke situasie ’n voorbeeld moet wees in wat hy/sy doen. ’n Leier loop voor en wys die pad vir ander om te volg.
• Dink jy dit is belangrik dat skole leiers aanstel?
Ja. Indien ’n skool leiers aanstel kan daardie leierseienskap in die leerders ontwikkel word en so help dit om ’n groep jongmense te skep wat ’n verskil in die samelewing kan maak.
• Watter vak is vir jou die lekkerste en waarom sê jy so?
Ek is mal oor wiskunde, want ek hou daarvan om somme uit te werk en op ’n antwoord uit te kom. Jy gaan die res van jou lewe, in baie situasies, wiskunde gebruik om probleme op te los.
• Watter vak sal jy liewer ’n mis gee as jy kan?
Op hierdie stadium sal ek eerder skeppende kunste ’n mis gee. Ek sien egter uit na al die nuwe vakke waarmee ek in graad sewe te doen gaan kry.
• Wat is jou mening oor boelies in ’n skool?
Ek hou nie van boelies nie. Meestal probeer ek hulle help. Ek dink dat iemand wat ’n boelie is, iemand is wat ’n probleem het of nie weet hoe om moeilike situasies in sy/haar lewe te hanteer nie. Eerder as om so persoon af te skryf sal ek die moeite doen om uit te vind wat fout is en miskien kan ek die persoon wees wat kan help.
• Dink jy daar is hoop vir die jong mense van hierdie land?
Beslis. Ons moet positief bly oor Suid-Afrika en elke geleentheid gebruik wat na ons kant toe kom.
• As jy een wens het wat bewaarheid sou kon word, wat sou dit wees?
Aangesien dit my laaste jaar in die laerskool is sou my wens wees dat ons in 2021 net normaal sou kon aangaan om skolesport te beoefen.
• As jy vir een dag die president van die land kon wees, wat sou jy doen?
Ek sou graag ’n towerstaf wou swaai en Covid-19 laat verdwyn.
• Wat is jou mening oor die rol wat sosiale media vandag speel?
Dit is n goeie ding as jy weer kontak met ou vriende wil maak en ook om nuwe vriende te ontdek. Ek voel dat kinders van ons ouderdom sosiale media kan gebruik, maar ook dat ons ouers nog steeds so nou en dan ’n ogie moet gooi om seker te maak ons beland nie in die moeilikheid nie. My ouers kyk mooi dat ek nie sosiale media misbruik nie.
• Wat laat jou sommer lekker lag?
My pa se lawwe grappies.
• Wat maak jou baie gou kwaad?
As kinders stories van my versprei wat nie waar is nie en mense wat ek as vriende beskou dit glo.
• Wie is jou rolmodel en waarom?
My pa. Hy is baie vriendelik, hardwerkend en stel ’n goeie voorbeeld vir my.
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:![]()
![]()
![]()
![]()
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



