In die kollig
Ek het toe terug gekom en besluit ek wil voltyds radiografie studeer, maar het toe geskuif na onderwys toe.
Tené Minderon (22) is Brakpan se eie TV-ster, model en rolmodel. Sy woon saam met haar ouers, Johan en Jeanette Minderon, in Brakpan Sentraal.
Wat het jy na skool aangepak?
Ek het direk na skool vir twee en ’n half maande deur Italië en Oostenryk gereis en by modelagentskappe in beide lande aangesluit.
Ek het ’n bietjie modelwerk gedoen en rond gereis. Dit was ’n geleentheid wat nie vir baie mense beskore is nie en veral nie op 18-jarige ouderdom nie, dus is ek baie dankbaar.
Ek het toe terug gekom en besluit ek wil voltyds radiografie studeer, maar het toe geskuif na onderwys toe.
ALSO READ:
Hoe lyk ’n dag in Tené se skoene?
Ek is ’n voltydse model, aktrise en student. Ek studeer BEd Grondslagfase en ek geniet elke oomblik hiervan. ’n Dag in my skoene kan soms besig wees, maar soms is dit net in pantoffels. Ek werk nie elke dag van die week nie. Op dae wat ek werk is ek of by die studio besig met die opname van Getroud Met Rugby of op ’n stel waar ek voor die kamera regstaan vir kliënte. Ek is tans by ICE Models agentskap.
Hoe het jy by Getroud met Rugby betrokke geraak?
Ek het ’n oudisie gehad waar ek moes dans en ’n toneel doen, wat ’n redelike uitdaging was. Hierdie is ’n besonderse ervaring wat ek nooit gedink het sal realiseer nie. Ek het nog altyd gehoop ek sal op TV verskyn en die droom het sommer vinnig waar geword.
Sal modelwerk altyd deel van jou lewe wees?
Van kleins af was dit nog altyd my droom om ’n beroep uit modelwerk te maak. Vanjaar is die vyfde jaar wat ek dit doen. Wanneer ’n geleentheid hom voordoen sal ek dit aangryp. Ek sal dit definitief vir die res van my lewe wil doen.
As jy raad vir jonger meisies kan gee, wat sal dit wees?
Vergeet van wat ander mense gaan dink en wees jouself. Ek het die volgende aanhaling gelees wat vir my ’n ander perspektief gee hieroor: “Every time you judge someone, you reveal a part of yourself that needs healing.”
Waar sien jy jouself oor vyf jaar?
Met die huidige situasie van ons wêreld kan niemand verder as volgende maand beplan nie. So ek wil my graad vang, suksesvol wees in my loopbaan en gelukkig wees in ’n huwelik met ’n gesin miskien.
ALSO READ:
In die kollig: Leer vir Truzaan Niemand ken
Wat is jou opinie rakende sosiale media, is jy vir of teen dit?
Ek is definitief vir sosiale media. Daar is baie voordele van sosiale media en dit gee vir mense geleenthede om hul take bekend te stel. Dit skep ’n platform vir mense vir bewusmaking van alledaagse gebeurtenisse. Op die stadium is die duim skerper as die swaard. Aan die negatiewe kant is dit ongelukkig ook ’n teelaarde vir kuberboelies.
Beskryf jouself in vyf woorde
Onafhanklik, dinamies, realisties, stiptelik, georganiseerd
As jy enige plek in die wêreld kon bly, waar sou dit wees?
As ek in Suid-Afrika sou bly sou ek beslis in die Tuinroete wil woon. Maar ek sal ook nou nie omgee om in Hawaii te gaan nes skrop nie.
Have a story?
Contact the newsroom by emailing: Thelma Koorts (editor) brakpanherald@caxton.co.za or Stacy Slatter (news editor) stacys@caxton.co.za
Remember to visit the Brakpan Herald on the following social media platforms:
Follow us:



