Bekende besigheidsman verloor stryd teen Covid-19
“Daar was tye waar ons gedink het dit gaan beter en dat hy sal huis toe kom.”
Covid-19 het Sondag die lewe van nog ’n bekende inwoner en besigheidsman van die dorp geëis.
Deon Olivier (62), wat vir die afgelope ses jaar die kroeg en onthaalfasiliteite by Cosy Corner bestuur het, is Sondagoggend om 03:30 in die hospitaal oorlede.
Hy is op 13 Mei opgeneem toe hy positief getoets het vir Covid-19 en mediese behandeling benodig het.
Hy is die afgelope vier weke in die hoësorgeenheid en die intensiewe sorgeenheid van die Netcare Sunward Park Hospitaal behandel.
Sy lewensmaat van die afgelope 26 jaar, Saartjie Lötter (57), het ook Covid-19 gehad, maar dit was nie vir haar nodig om gehospitaliseer te word nie.
Saartjie is die eienaar van Hippo’s Pub and Grill en het die afgelope maand Deon se plek ook by Cosy Corner vol gestaan.
Sy het vertel dat hulle mekaar al eintlik 42 jaar ken.
Lees ook: Covid-19 eis gesoute polisieman
“My kinders was vier en 11 jaar oud toe my man oorlede is. Hulle het Deon as hul pa aanvaar,” het Saartjie vertel.
My dogter, Vanessa Ede, se kind Lyra (9) was sy oogappel.
Deon het na sy skoolloopbaan opleiding by die polisiekollege ondergaan waarna hy as polisieman op verskeie dorpe in die land gestasioneer was.
Volgens Saartjie het hy in 1996 uit die polisie getree.
“Deon het daarna by my besigheid gehelp, totdat hy sowat ses jaar gelede die kroeg en onthaalfasiliteite by Cosy Corner oorgeneem het.”
Saartjie het vertel dat die afgelope maand baie uitmergelend vir Deon was.
“Daar was tye waar ons gedink het dit gaan beter en dat hy sal huis toe kom, maar Vrydagaand het hy vir my gesê dat hy klaar baklei het. Ons was sielsgenote wat baie dinge saam ervaar en gedeel het,” het sy gesê.
Sy het vertel dat hy alles met oorgawe aangepak het.
“Hy het op ’n stadium ’n belangstelling in hengel ontwikkel en hy het gesorg dat hy baie goed gevaar het in die kompetisies waaraan hy deelgeneem het. Hy het dit ook geniet om te jag.”
Deon was bekend daarvoor dat hy vir mense omgegee het gedurende sy tyd in diens van die SAPD en met sy betrokkenheid by Hippo’s en Cosy Corner het hy baie vriende gemaak.
Die begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie gefinaliseer nie.




