Seun geniet ritte op rommeltrollie
“Daar is goeie mense daar buite wat somtyds vir ons kos gee of iets om te drink."
’n Blondekop seuntjie wat agterop sy pa se rommeltrollie sit en vir almal waai sovêr hulle stap, het ’n algemene gesig in die dorp geword.
Dirk Jacobs (46) verdien al die afgelope 16 maande ’n inkomste deur afvalpapier, kartonbokse, plastiek en blikkies te versamel. Hy maak die goedere bymekaar en plaas dit in ’n sak wat hy op ’n trollie tek.
Dit is ’n taak wat hy elke dag verrig en sommige dae stap hy sovêr as Boksburg en Casseldale.
Maar hy is gewoonlik nie alleen nie.
Sy agt-jarige seun, Reuben Stiglingh, sit gewoonlik op die rommeltrollie en waai vir almal by wie hulle verby stap.
“Reuben geniet dit om saam met my uit te gaan gedurende naweke of na skool. Wanneer hy nie huiswerk hoef te doen nie, spring hy altyd op die trollie wanneer ek my rondtes gaan doen,” het Dirk vertel.
“Ek maak seker dat hy veilig is en oor die algemeen is mense vriendelik teenoor ons. Ongelukkig was daar al een of twee voorvalle waar mense my geskel het en gesê het dat ek my kind in gevaar stel. Dít sal ek nooit doen nie.”
Reuben se ma, Mathilda Stiglingh (40), en ’n ouer kind sorteer die rommel wanneer Dirk dit na die perseel, waar hulle ’n blyplek huur, neem.
“Reuben weet hy mag net naweke, vakansies en wanneer hy nie skoolwerk het nie saam met sy pa gaan. Hy geniet die mense en doen self geen werk nie. Hy vang eintlik maar net ’n rit saam met sy pa agterop die trollie,” het Mathilda vertel.
LEES OOK: Can we raise healthy children in an unhealthy country?
“Daar is goeie mense daar buite wat somtyds vir ons kos gee of iets om te drink en wanneer ek kan, bederf ek vir Reuben met ’n roomys,” het Dirk gesê.
Reuben het gesê dat sy pa baie hard werk.
“Ek het nou die dag probeer om die trollie te trek, maar dit is baie swaar,” het hy vertel.
“Ek verdien op ’n harde, maar eerlike manier geld om kos op die tafel te kry,” het Dirk gesê.
Hy noem ook dat sy enigste paar tekkies besig is om die gees te gee.
“Ek loop baie ver en skoene hou nie baie lank nie.”




