Konstabel geprys vir haar deernis na inwoner se trauma
Matla het ook op twee onderskeie geleenthede vir De Kock gekontak om seker te maak dat dit goed gaan met haar.
Hester de Kock (63) van Kenleaf het vroeg op 9 Januarie ’n traumatiese ervaring ondergaan toe sy ’n man in haar huis betrap het. Sy woon al ses jaar in Brakpan en beweer dat sy nog nooit so onveilig in haar huis gevoel het soos nou nie.
Dié nare ervaring het egter ’n positiewe nadraai gehad toe De Kock met groot deernis by die Brakpan Polisiestasie behandel is, toe sy die voorval gaan aanmeld het.
Op die aand van die voorval, het De Kock uit oudergewoonte die venster oop gelaat vir haar kat, Milo, om steeds te kan uit gaan. Sy het tot na middernag speletjies op haar selfoon gespeel en televisie gekyk.
ALSO READ: Firefighters go the extra mile for dog in distress
De Kock het later die televisie afgeskakel en gereed gemaak om te slaap. Net na 01:00 het sy geluide in haar kamer gehoor.
“Ek het gedink dit is Milo wat ’n muis in bring,” het sy vertel.
Sy het haar selfoon se lig aangesit om te kyk wat aangaan.
Die oomblik toe sy die lig aansit, het daar ’n man, wat net in onderklere geklee was, langs haar bed van die vloer af opgespring.
De Kock het onmiddellik om hulp geskree. Die man het twee selfone gegryp en weer sy pad by die venster uit gevind.
Intussen het De Kock se buurman die lawaai gehoor en oor die muur gespring om te kyk wat aangaan, maar die boosdoener was reeds weg.
ALSO READ: Multi-party coalition solidified in Ekurhuleni with election of management team
De Kock is vroeg die volgende oggend na Brakpan Polisiestasie om ’n verklaring te gaan aflê. Konst Mannana Matla (23) het dadelik vir De Kock op haar gemak laat voel.
“Sy het my getroos en veilig laat voel,” het De Kock, wat groot lof vir die konstabel het, gesê.
Matla werk sedert 2019 by Brakpan Polisiestasie en beweer dat sy alle verklarings met simpatie en deernis neem.
Matla het ook op twee onderskeie geleenthede vir De Kock gekontak om seker te maak dat dit goed gaan met haar.
“Hester moet weet dat sy nie alleen is nie en ons altyd sal help waar ons kan,” het Matla gesê.



