DBV ontvang welkome skenking
Die paartjie het ’n beroep op die publiek gedoen om ook te help.
Die Brakpan DBV het onlangs ’n welkome donasie van verskeie produkte ontvang, wat groot verligting sal bring vir dié nie-winsgewende organisasie.
Marcel (31) en Zeldine Liebenberg (25) het op 15 Januarie met ’n sleepwa vol produkte by Brakpan DBV se deur opgedaag.
Dié paartjie het op hul sosiale media platforms vir donasies gevra en baie meer geld ingesamel as wat hulle verwag het. Met die donasies van die publiek het Zeldine en Marcel besluit om donasies van hul eie by te voeg.
“Ons het genoeg fondse gehad om twee DBV organisasies te help,” het Zeldine gesê.
Brakpan en Boksburg DBV was die onderskeie organisasies wat donasies ontvang het. Komberse, skoonmaakmiddels, besems en blikkies kos is onder andere van die produkte wat geskenk was.
“Ons het ’n sagte plek vir diere in ons harte en wil graag almal aanmoedig om hul naaste DBV te ondersteun.”
Die Brakpan DBV het groot waardering vir die Liebenberg-gesin se daad en hoop dat dit ander sal inspireer om te help waar hulle kan.
“As meer mense kan help, al is dit net ’n blikkie kos wat by die DBV afgelaai word, sal die wêreld ’n beter plek wees,” het Zeldine gesê.




