Bejaardes maak sypaadjie skoon
Die drie het ook voortgegaan om dooie onkruid wat teen ’n muur op die sypaadjie gegroei het te verwyder.
Drie senior burgers van die dorp het verlede Woensdag net mooi genoeg gehad van ’n stinkende hoop rommel op die hoek van Highstraat en Kingswaylaan.
Steve (76) en Margaret (70) Hayward, asook Gustav Fourie (66), was douvoordag gewapen met grawe, besems, handskoene en swartsakke om die omgewing skoon te maak.
Dié drie, inwoners van die nabygeleë Knightsbridge Court, was keelvol vir die seeroog waarlangs hulle en ander inwoners daagliks moes stap.
“Daar was soveel gemors dat mens nie meer op die sypaadjie kon loop nie. Dus moes mens in die straat loop en dit is nie veilig nie, veral vir die bejaardes wat in die omgewing woon,” het Steven verduidelik.
LEES OOK:
UVA bied gemeenskapsveiligheid werksessie aan
Die drie flukse inwoners was nog besig om die rommel in sakke plaas toe werknemers van die Stad van Ekurhuleni opgedaag het om dit te verwyder.
“Ons was van plan om dit self weg te ry op ons eie onkoste, maar is nietemin dankbaar dat dit gedoen is,” het Gustav gesê.
Die drie het ook voortgegaan om dooie onkruid wat teen ’n muur op die sypaadjie gegroei het te verwyder.
“Dit help nie om hande gevou terug te sit en wag dat dinge gebeur nie. As elkeen maar net ’n klein bietjie doen, sal dinge nie so sleg daarna uitsien nie,” het Steven gesê.




