Lalie Fourie is oorlede
Sy het haar kreatiwiteit uitgeleef deur onder andere houtsneewerk en handnaaldwerk.
Die jare-lange eienaar van Lalies Den, Lalie Fourie (86), is op 17 April oorlede.
Haar gewilde materiaal winkel is deur duisende mense van heinde en verre besoek, nie net vir die mooi voorraad nie maar ook vir die lekker geselskap wat altyd daar te kry was.
Tannie Lalie soos sy alombekend was, was ’n vriendin vir al haar getroue klante wie nooit gehuiwer het om haar kreatiewe kennis te deel nie.
Lalie is op 17 Augustus 1936 in Vaalwater, Limpopo, gebore waar sy tot 17-jarige ouderdom gewoon het, waarna sy Brakpan haar tuiste gemaak het.
Sy het in 1955 met Jan Fourie getrou en die egpaar het hul lewe lank in Brenthurst gewoon. Jan is in 2009 oorlede.
Saam het hulle vier seuns gehad, naamlik Johan, Mike, Marcel en Vincent, wie die laaste oorlewende seun is.
Daar is ook 10 kleinkinders en 22 agterkleinkinders.
Lalie het haar besigheid, wat eers Pixie Stoor geheet het, in 1988 geopen en later die naam na Lalies Den verander.
Sy was aan die stuur van sake tot 2019 toe sy halt geroep het om te rus. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie.
Sy het haar kreatiwiteit uitgeleef deur onder andere houtsneewerk en handnaaldwerk te doen. Sy het ook porseleinpoppe, waarvan sy ’n groot versameling gehad het, gemaak.
Die merkwaardige vrou het graag vir haar vriende en vriendinne geskenke gegee wat sy met die hand gemaak het.
Haar borrelende persoonlikheid sal nog vir lank deur menige inwoners van die dorp onthou word.



