Local newsNews

Spraakterapeut roep na 43 jaar halt

Hildegard het ’n ellelange lys waarmee sy haarself gaan besig hou na haar aftrede.

Slegs ’n handjievol mense kan terugkyk op ’n loopbaan van 43 jaar by een skool, maar noudat Hildegard van Vreden die verpligte aftree-ouderdom bereik het, gaan sy uiteindelik die tuig neerlê.

Dié 65-jarige spraakterapeut gaan op 29 April haar loopbaan by Muriel Brand Skool afsluit.

Sy het in 1979 op die ouderdom van 21 by die skool begin werk, waar sy vir die afgelope 43 jaar duisende leerders onder haar vlerk geneem het.

In 1978 het Hildegard haar graad aan die Universiteit van Pretoria as spraakterapeut en oudioloog voltooi.
Sy en haar man, Hans van Vreden, woon al 36 jaar in Dalpark Proper.

“Die vordering, liefde en waardering van ons besondere leerders het my loopbaan bevredigend gehou,” het Hildegard gesê.

Sy beweer dat Muriel Brand Skool belangrik en spesiaal is vir haar.

“Die kinders en my kollegas was vir my werksbevredigend.

“Om by ’n skool te werk het my die geleentheid gegee om my huwelik en eie kinders goed saam met my loopbaan te akkommodeer.

“Ek gaan beslis die leerders en my kollegas, wat altyd as ’n span saamwerk, baie mis. Hulle almal het ’n spesiale plek in my hart,” het sy gesê.

Hildegard het ’n ellelange lys waarmee sy haarself gaan besig hou na haar aftrede en het aan die Herald vertel dat sy baie stokperdjies het.

“Ek is baie lief vir tuinmaak, brei, hekel en borduurwerk.”

Hildegard en haar man is ook binnekort op pad Australië toe om vir hulle twee dogters te gaan kuier.

“Ek het ook drie kleinkinders na wie ek vreeslik verlang.”

Weens Covid-19 regulasies het die gesin mekaar meer as twee jaar laas gesien.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button