AfriForum buurtwag ontvang meer opleiding
Die doel van die opleiding is om lede beter voor te berei vir die uitdagings wat hulle elke dag aanpak.

Die AfriForum-buurtwag in Brakpan het onlangs opleiding ontvang wat hulle bemagtig om op die korrekte wyse op te tree in noodsituasies.
Hierdie opleiding is gefokus op die beheer van bloeding en sal die patrolleerders die kennis gee om mekaar op die regte wyse by te staan indien iemand ’n ernstige wond opdoen.
Die opleiding is ’n groot behoefte by AfriForum-buurtwagte omdat buurtwagpatrolleerders gereeld op motorongelukke en traumaverwante voorvalle reageer.
LEES OOK: Hoërskool Stoffberg matrikulant sterf in ongeluk
“Elke persoon moet hulself bemagtig met die kennis en vermoë om bloeding van ernstige beserings te beheer,” sê Petrus Coetzee, AfriForum distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
“Ongelukke en misdaad vind al hoe meer plaas en kennis soos hierdie kan ’n groot verskil maak in iemand se lewe,” het Coetzee bygevoeg.
Hy het ook die buurtwaglede, wat tyd afgestaan het om die kursus by te woon om sodoende hulle vermoë om hul gemeenskappe te dien te versterk, bedank.
LEES OOK: Ouerpaar hou moed na seldsame sindroom diagnose
“Ons lede is dikwels eerste op ‘n toneel om te help en hierdie opleiding maak ’n daadwerklike verskil,” het Coetzee gesê.
“AfriForum se fokus vir 2022 is opleiding om en ons lede beter voor te berei vir die uitdagings om hulle gemeenskap te dien,” sê Gerhard Cilliers, voorsitter van AfriForum se Brakpan-tak bygevoeg.



