Xavier skitter in verskeie velde
“Eintlik sal ek nie tussen rugby en toneelspel kan kies nie, ek geniet altwee vreeslik baie.”
Die 14-jarige Xavier Momberg van Dalview se talente strek van die sportveld tot op die verhoog.
Xavier is tans ’n Graad Agt leerder aan Hoërskool Die Anker. Hy beweer dat sy gunsteling vak natuurwetenskap is omdat hy die eksperimente interessant vind.
Verlede jaar was hy Laerskool Dalview se onderhoofseun van kultuur en het sy lyf krieketspeler vir hulle eerste krieketspan gehou.
Hy het verlede jaar ‘n ruskans van rugby gevat om eerder op krieket te fokus. Maar sy liefde vir rugby het eintlik al op die jong ouderdom van ses begin.
“Ek is mal oor albei, maar hierdie jaar het die rugby gogga my behoorlik gebyt,” het hy aan die Brakpan Herald vertel.
“Die afrigters by ons skool motiveer my baie en ek geniet rugby soos nog nooit van tevore.”
Vroeër vanjaar het Xavier vir die eerste keer die Oos-Transvaal Bokkieweek proewe bygewoon en tot sy verbasing het hy span gekry.
Die Bokkieweek toenooi het van 4 tot 8 Julie in Kroonstad plaasgevind. Tydens die toernooi is daar spelers geïdentifiseer wat uitgestaan het en Xavier was een van hulle.
Hy is toe gekies vir die Bokkieweek uitnodigingspan wat op 16 Julie in Vereeniging deelgeneem het.
LEES OOK: Stoffberg wen liga
Ongelukkig het sy span op dié dag verloor maar hy beweer dat dit steeds vir hom baie lekker was om deel daarvan te wees.
Xavier was die engiste speler van Oos-Transvaal wat vir die Bokkieweek uitnodiginspan gekies was.
“Die persoon het my naam verkeerd uitgespreek so ek het aanvanklik nie eers besef hy lees my naam nie, maar ek het baie trots gevoel om deel van die span te wees,” het hy gesê.
“Daar is niks lekkerder as `n hele rugbyspan wat mekaar ondersteun nie, op die veld asook van die veld af.”
Hy sal graag eendag vir sy skool se eerstespan wil uitdraf en het beslis sy rugby talent by sy pa geerf. Dié was blykbaar ‘n kranige Craven Week speler op sy dag.
Vroeër in Junie het Xavier by die Gauteng Kampioenskappe met vier toneelspeelitems gekwalifiseer om aan die South African Championship of Performing Arts (SACOPA) deel te neem.
By die Gauteng Kampioenskappe het hy aan items soos ‘acting duet’, ‘classical’, ‘open’ en ‘acting classical and ‘contemporary’ deelgeneem en gekwalifiseer.
“Dit is die eerste keer wat ek by die SACOPA gaan deelneem. Die jaar is daar baie eerstes vir my.”
Die SACOPA sal vanaf 30 September tot 9 Oktober in Rustenburg plaasvind. Hier gaan Xavier aan ’n totaal van 11 items deelneem.
Hy het in Graad Twee vir die eerste keer aan redenaars deelgeneem en boonop nog gewen ook.
“Daarna het ek begin met drama klasse en toe begin deelneem aan alles wat ek kon. Dit is vir my baie lekker om voor mense op te tree en mense te laat lag.”
Xavier beoog om die Suid-Afrikaanse span in toneelspel te haal.
“Ek sal baie graag eendag ‘n akteur wil word. Eintlik sal ek nie tussen rugby en toneelspel kan kies nie, ek geniet altwee vreeslik baie.”




