Kersboom sal weer harte verbly
Die gemeenskaplike Kersboom sal op 16 Desember by die Just Wheels Motorklub gehou word.

Die organisasie Brakpan vir Brakpan (B4B) is hard agter die skerms besig om weer ‘n gemeenskaplike Kersboom vir minderbevoorregte en behoeftige kinders van die dorp te reël.
Verlede jaar het meer as 300 kinders ‘n onvergeetlike dag beleef en die mikpunt is om dit vanjaar weer te doen.
Daar word veral ‘n beroep op kinderhuise van die dorp gedoen om deel van die dag te wees.
Die Kersboom is egter ook daar vir kinders wat nie in kinderhuise is nie en wie se ouers nie vir hulle ‘n geskenk of iets spesiaal vir Kersfees kan bekostig nie.
Volgens een van die organiseerders, Belinda Coetzer kan die publiek nominasie vorms by die volgende besighede gaan afhaal, voltooi en weer by die besigheid inhandig (spesiale houers is daarvoor aangebring).
LEES OOK: Woman fatally stabbed by former partner in Brakpan supermarket
Die besighede is Benn’s Apteek, Brakpan Paint and Accessories en PD Motorcycles. Die sluitingsdatum vir die inhandiging van die nominasievorms is 24 November om 12:00.
Die Kersboom, sal soos in die verlede by die Just Wheels Motorklub op 16 Desember aangebied word.
“Ons verwag weer ‘n groot aantal kinders hierdie jaar en ons doen ‘n beroep op die publiek om ons te ondersteun om sodoende vir die kinders ‘n spesiale dag te organiseer.
“Items wat onder meer benodig word is lekkergoedpakkies, koeldrank, geskenkpapier, broodrolletjies, tamatiesous, margarien en worsies.
“Ons gee ook vir elke kind ‘n geskenk en is reeds besig om geskenke bymekaar te maak,” het Belinda verduidelik.
Die publiek is welkom om nuwe geskenke, wat gepas is vir kinders vanaf twee tot 13 jaar, te skenk. Gebruikte speelgoed is ook welkom aangesien hulle dit skoonmaak en herstel (waar moontlik).
Belangstellendes kan Belinda Coetzer by 076 167 4328 kontak of die goedere gaan aflaai by Hamiltonlaan 118.
Belinda is ook bereid om goedere by inwoners se huise te gaan oplaai.
Brakpan vir Brakpan (B4B) is ‘n geregistreerde, nie-winsgewende organisasie, waarvan die hoofdoel is om samewerking tussen organisasies in Brakpan te bewerkstellig.
“Ons is gefokus op die opheffing van die Brakpan gemeenskap deur die gemeenskap – slegs binne die Brakpan woonbuurtes,” het Bart Zaayman van B4B gesê.