Die Ventertjies is die beste in Ekurhuleni
Die Ventertjies het onlangs die Best of Ekurhuleni toekenning vir die beste plaaslike orkes ontvang.

Brakpan se Nicola (23) en Lindie-Lee (20) Venter, of te wel Die Ventertjies, het geen bekendstelling nodig wanneer dit by kitaarmusiek kom nie.
Die sussies wat baie gemaklik op die verhoog is, elk met ‘n kitaar in die hand het ook onlangs die die Best of Ekurhuleni toekenning vir die beste plaaslike orkes ontvang.
Dit is net nog ‘n pluimpie in die hoed vir die talentvolle susters wat al verskeie toekennings ontvang het.
Hulle het in 2017 ‘n Ghoema musiektoekenning ontvang vir beste boeremusiek album of tradisionele musiek album.
Hulle het ook in 2019 ‘n Aitsa musiektoekenning vir beste boeremusiek of tradisionele album verwerf.
Die twee se orkes bestaan al nege jaar.
LEES OOK: Ultimate Slapfight SA comes to Brakpan
Nicola speel musiek van die ouderdom van sewe af en Lindie-Lee vanaf nege jaar oud. Die twee is baie lief vir musiek en dans en het as kinders in hul pa, Hennie Venter se orkes gespeel.
“Van daar af het ons nooit opgehou om te doen waarvoor ons lief is nie,” sê Nicola.
Hulle het in ‘n huis groot geword waar daar elke naweek musiek gemaak is.
“Wanneer ons die kans gekry het, het ons ander kunstenaars gaan ondersteun en gaan dans.”
Die twee maak boeremusiek, country, en Afrikaanse musiek en het al vier albums Wikkelvingers, Vlindervingers, Vanaand Dans ons Weer en Roer jou Voete.
LEES OOK: Wen kaartjies na SMOKIE se ekstra vertoning by Carnival City
Hulle het ook ‘n musiek kontrak met Universal Music gekry, wat sedertdien beëindig is. Die Ventertjies tree landswyd op by feeste, troues, verjaarsdae en funksie plekke wat hulle nooi.
“Ons het al die eer gehad om ook twee toere na Namibië te onderneem,” vertel Nicola.
“Ons sien uit daarna uit om ons droom verder te kan uitleef in die musiekbedryf en om nog so paar albums te kan vrystel,” sê sy.
Hulle hoop ook om nog ‘n toer in Namibië en een in die Kaap te doen in die komende jaar. Die Ventertjies het Sondag by die Just Wheels Motorklub se opedag opgetree waar besoekers hulle musiek en kitaar toertjies geniet het.
Een van hul gewilde toertjies behels dat albei susters gelyktydig op een kitaar speel.